OPINIE - Om 'n ma te verloor, is iets waarvoor geen mens ooit regtig voorbereid is nie. Dis nie net 'n gat in jou hart nie - dis 'n verskuiwing van jou hele wêreld.
Skielik is daar stilte waar daar altyd 'n stem was. Ek verstaan nou wat mense bedoel as hulle sê: "As ek haar net nog een keer kon bel..." of "As ek net weer haar stem kon hoor."
Maar vir my was dit meer as dit. Ek en my ma het iets besonders gehad - soms het ons koppe gestamp, maar ons was ook mekaar se beste maatjies.
Sy het altyd gesê ek was haar beste verjaarsdaggeskenk - ek verjaar op die 17de, sy op die 18de Mei - al was sy ewe lief vir my twee broers. Sy het 'n manier gehad om haar liefde te wys in klein, alledaagse dinge - 'n koppie koffie, 'n grappie, 'n kunswerk, 'n blik wat meer gesê het as woorde.
Die afgelope twee weke het gevoel soos 'n droom waaruit ek nog nie heeltemal wakker geword het nie. Daar was die rou hartseer toe ek in die hospitaal besef ek en my pa gaan alleen uitstap; die stil besef van "wat nou?"; my pa wat in sak en as langs haar liggaam sit en huil soos ek hom nog nooit sien huil het nie.
En toe moes ek, sonder om regtig te dink, in organising mode spring - begrafnisreëlings, polisse, papierwerk, mense om te bel.
Dis dinge waarvoor niemand jou ooit voorberei nie. Hulle leer jou nie dié dinge op skool nie.
Ek het 'n dag gewonder of ek nie dalk 'n T-hemp moet laat maak wat sê: "Be nice. My mom just died." Want die wêreld het skielik so hard gevoel. Mense het aangegaan asof niks verander het nie, terwyl myne stilgestaan het. Maar toe besef ek: hulle weet nie.
En dit het my laat dink. Ons weet nooit waardeur ander mense gaan nie. Die brommerige oom in die tou by Pick n Pay - dalk dra hy iets swaar. Die bestuurder van die wit Polo wat verby jaag - dalk jaag hy hospitaal toe. Die meisie met die mooi glimlag - dalk hou sy skaars haar wêreld bymekaar, die man wat met sy hond in die straat af stap - dalk oorweeg hy selfdood.
Ons almal dra ons eie onsigbare gewig. En dis juis daarom dat ek nou meer as ooit glo: wees net nice.
'n Glimlag, 'n vriendelike woord, 'n drukkie - dit klink so klein, maar vir iemand anders kan dit alles beteken.
Ek het elke boodskap, oproep en drukkie waardeer. Ek het nie by almal uitgekom om dankie te sê nie, maar ek het elkeen gevoel. En ek het iets geleer wat ek nooit weer sal vergeet nie: dit maak nie saak wát jy vir iemand sê wat rou nie. Wat saak maak, is dát jy iets sê en dat hulle nie voel hulle moet alleen deur als gaan nie.
Dis moontlik anders vir almal, maar ek glo die goue draad wat deur alles loop is om net nice te wees. Moenie onnodig ongeduldig wees nie en moet jou nie steur aan die klein goedjies wat jou bloeddruk opjaag nie.
Al wat ek nou oor het, is haar laaste WhatsApp-stemnota waarin sy my vra om pynpille huis toe te bring, 'n begrafnisblaadjie, blomme en 'n spul foto's. Pa het haar bedkassie net so gelos. Ek durf nie daaraan vat nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’