GEORGE NUUS - Die berig in George Herald verlede week oor die gebeure wat verlede Dinsdag in die portaal van die burgemeester se kantoor afgespeel het, kon lesers dalk verwar oor wie nou eintlik wat gedoen het.
'n Groep inwoners van die New Dawn Park het burgemeester Melvin Naik volgens afspraak in sy kantoor vir 'n vergadering oor diensleweringsgriewe ontmoet.
'n Icosa-raadslid van die Garden Route-distriks-munisipaliteit, Theresa Fortuin was deel van die groep, omdat sy ook in die woongebied bly. Volgens Fortuin en ander lede van die groep, het die wyksraadslid van New Dawn Park, Cecil Noble, saam met nog 'n paar ander inwoners van die woonbuurt, ná die vergadering verby is, by die voorportaal van die burgemeesterskantoor opgedaag.
Fortuin het gesê die groep laatkommers was effe ontsteld en het in gesprek met Naik getree. Op daardie stadium het Fortuin gesê dit is jammer dat hulle nie die vergadering bygewoon het nie, en het sy bygevoeg dat wyksraadslid Noble ook na die vergadering genooi was.
Volgens Fortuin en ander ooggetuies het Noble toe sy vinger in Fortuin se gesig gedruk en haar gekonfronteer.
Die konfrontasie het later, toe Fortuin en die inwoners reeds die portaal verlaat het, uitgekring na 'n konfrontasie tussen Noble en Naik, wat in 'n heftige woordewisseling ontaard het. Die onderburgemeester, Charlotte Clarke, het inwoners aangeraai om hul diensleweringsgriewe op skrif te stel en in te dien.
Lees vorige artikels:
- DA sê portaal-drama is deur burgemeester ontlont
- Vredesprys ontwyk Noble
- New Dawn parkers eis raadslid se kop
- New Dawn Park maak stem dik
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'