Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hy is nie 'n politieke verkleurmannetjie nie, sê Gert Niehaus, voormalige DA-lid van die George-stadsraad en gemeenskapsleier.
Niehaus het verlede week by die Vryheidsfront Plus (VF Plus) aangesluit. Hy het in 2016 uit die DA bedank en later by die ACDP aangesluit.
Die jongste verwikkelings beteken dat hy die afgelope paar jaar lid was van drie politieke partye.
Niehaus het vanjaar in 'n munisipale tussenverkiesing in wyk 18 onder die ACDP se vaandel gestaan, maar verlede Maandag uit die party bedank. Hy het lank daaroor gewroeg. "Ek het gestrand gevoel in die ACDP."
Niehaus het benadruk hy is geen pos in die VF Plus aangebied nie. 'n Plaaslike
VF Plus-lid Robert Peschel, het as tussenganger opgetree. Niehaus het ook 'n gesprek gehad met Pieter Groenewald, die VF Plus-leier. Hy het nog politieke ambisies en is beskikbaar waar die party hom wil aanwend. Adv. Gert van Niekerk, die VF Plus-leier in George het gesê Niehaus en hy het destyds al gesels. In daardie stadium het Niehaus nog bedenkinge gehad omdat hy geglo het die party is 'n "bietjie te regs."
Kyk 'n video hieronder.
VF Plus groei
Volgens Van Niekerk groei die VF Plus fenomenaal en veg openlik vir minderheidsregte. Hy voorsien dat die Wes-Kaap uiteindelik onafhanklik kan word.
Die party kry steun van alle kante en daar is nie "wit en bruin lede". Die party se deur staan oop vir enigiemand wat tuis voel in die visie en missie van die party. Die VF Plus se mikpunt is om die bewind in die George-stadsraad tydens die munisipale verkiesing van 2021 oor te neem. Die party neem kennis van die woelinge in die DA. "Ons verlekker ons nie daarin nie. Ons het dit sien kom."
Johan du Toit, ACDP-lid in die George-stadsraad het Niehaus sterkte toegewens in die VF Plus.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'