GEORGE NUUS - 'n Bekende politikus, Marchell Kleynhans (40) het onverwags as raadslid bedank. Kleynhans het dit Maandag 27 Junie bevestig enkele ure nadat hy sy bedanking as raadslid ingedien het. Hy het ook uit die PBI bedank.
Kleynhans is in November 2021 tydens die munisipale verkiesing onder die vaandel van die PBI tot die George-stadsraad as proporsionele lid verkies.
Hy het sterk bande met Uniondale en was van 2011 tot 2016 'n DA-raadslid. Van 2013 tot 2016 het hy op die burgemeesters-komitee gedien. In 'n stadium was hy ook die wyksraadslid van 'n wyk in Uniondale wat deel vorm van George-munisipaliteit.
Einde 2018 het hy uit die DA bedank en die politiek vaarwel toegeroep.
In 2020 het hy weer by die politiek betrok-ke geraak en by die PBI aangesluit. Tydens die 2021 munisipale verkiesing was hy die party se verkiesingsbestuurder in George.
Kleynhans het gesê hy wou nooit terugkeer na die politiek toe hy destyds uitgetree het nie. Hy het bygevoeg: "Ek het 'n baie groot hart om 'n verskil te maak aan arm mense se lewens. Tydens die munisipale verkiesing het dit vir my gelyk of die PBI die party is wat die verskil kan maak. Ek het daaraan geglo.
"Met die uitslae van die verkiesing het dit vir my duidelik geword dat as jy 'n verskil wil maak aan jou mense se lewens, sal jy moet saamwerk met die DA wat die meerderheid in die raad het."
Sy besluit om te bedank was nie maklik nie en dit gaan oor beginsels. "Die mense van George moet besef dat dit vir Marchell Kleynhans nie oor 'n salaristjek gaan nie, maar oor die impak op mense se lewens. Hoe kan ek chops eet terwyl my mense honger lei?" wou hy weet.
"Ek wou met die DA saamwerk ten bate van my arm gemeenskap wat George en Uniondale insluit."
Kleynhans het benadruk dat hy geen kwade gevoelens teenoor die PBI het nie.
Dit gaan oor verskillende benaderings.
Hy is deur geen ander politieke party of instansie genader met die oog op 'n moontlike pos nie. Hy is vir eers klaar met die politiek en is van voorneme om verder te studeer.
Hy het ook planne om saam met 'n nie-winsgewende organisasie gemeenskapsontwik-kelingswerk oor rassegrense heen te doen. Hy sal later meer besonderhede gee.
Sy gesin is vir hom belangrik en hy wil ook tyd en aandag aan hulle gee. Hy het almal bedank wat hom oor die jare bygestaan en ondersteun het.
Marchell Kleynhans
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'