GEORGE NUUS - Die DA in George gaan nie voor Maandag 1 November se munisipale verkiesing 'n burgemeesterskandidaat aanwys nie. Dit is Dinsdag deur Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, aan George Herald bevestig.
Dit bring 'n einde aan weke se intense spekulasie oor wat die party gaan doen oor die tameletjie om 'n burgemeesterskandidaat aan te wys.
Zille het Dinsdag 24 Oktober op vrae van George Herald gesê die Federale Regskommissie het bevind dat die keurpaneel verkeerdelik saamgestel is, en dat die proses weer van voor af moet begin.
"Ons kan dit nie voor die verkiesing doen nie, so dit sal so gou moontlik na die verkiesing gebeur. Ons is 'n party wat ons reëls gehoorsaam, en dis hoekom hierdie pad gevolg moet word."
Fedex soek “klarigheid”
Zille het in Augustus by navraag gesê die DA se federale uitvoerende komitee (Fedex) wag eers om "klarigheid" te kry voordat hy 'n finale besluit neem oor die party se burgemeesterskandidaat vir George.
Dit het gevolg nadat vrae ontstaan het omdat die DA reeds die naweek van 28 en 29 Augustus sy burgemeesterskandidate vir dorpe in die oosstreek bekendgemaak het. Zille het toe gesê daar is 'n bepaalde proses wat gevolg word. 'n Keurpaneel sit en voer onderhoude met kandidate. In George het meer as vyf kandidate aansoek gedoen.
Na die proses afgehandel is, word die uitslag na Fedex verwys. Fedex kan dit goedkeur of terugverwys na die keurpaneel met redes waarom.
In George se geval het Fedex nie op een van die twee keuses besluit nie. Fedex wil eers meer "klarigheid" hê voordat hy 'n besluit neem.
Zille het benadruk dit gaan nie oor 'n spesifieke vraag nie. "Ons wil dit reg doen. George is 'n baie belangrike munisipaliteit."
By dit is daar ook nog die vraag wanneer die grondwetlike hof uitspraak gaan lewer oor of die munisipale verkiesing sal voortgaan of nie.
Op die vraag wanneer daar duidelikheid oor die DA se burgemeesterskandidaat vir George sal wees, het sy geantwoord: "Ek hoop dis eerder vroeër as later."
Teleurstelling
Dit het intussen aan die lig gekom dat DA-aktiviste 'n brief aan Zille geskryf het waarin hulle vra dat die party sy burgemeesterskandidaat aankondig. Hulle spreek die hoop uit dat dit voor Saterdag sal wees wanneer die spesiale stemme begin.
Flip de Swardt, vorige burgemeester en iemand wat in die binnekringe van die DA in George beweeg het, het Dinsdag gesê dis 'n teleurstelling dat die party nie 'n burgemeesterskandidaat aanwys nie.
"Dit dui op 'n probleem wat die party in George het. Dis jammer dat die kiesers in George nie weet wie hul toekomstige leier kan wees nie. Baie mense wat met my hieroor gepraat het, het hul teleurstelling oor die aangeleentheid uitgespreek. Die feit dat 'n burgemeesterskandidaat nie aangewys is nie, belemmer die eenheid van die DA."
Woelinge agter die skerms
Nadat die DA sy burgemeesterskandidate vir ander dorpe in die oosstreek soos Mosselbaai, Oudtshoorn en Hessequa bekendgemaak het, maar nie George nie, het, is daar bespiegel om wie se nek die DA die burgemeestersketting graag wil sien. Daar is begin gis dat dit die DA in sy verkiesingsveldtog kan benadeel en daar was ongemak oor die voortslepende proses.
Na wat verneem is, was daar woelinge agter die skerms. Blykbaar was Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste, heel bo in die DA se aanwysingsproses vir die burgemeesterskandidaat.
Tweede was 'n oudburgemeester en deesdae weer nuwe lid van die DA, Bazil Petrus, derde was DA-raadslid Raybin Figland en vierde Leon van Wyk, die huidige burgemeester. Blykbaar was die puntetellings van al die kandidate baie na aanmekaar.
Wessels het toe glo ter wille van kontinuïteit in George besluit om te onttrek en sy steun aan Van Wyk te gee. Dit is algemeen bekend dat Wessels en Van Wyk 'n baie goeie werksverhouding het.
In sommige DA-geledere is toe gesê dat Petrus dan die kandidaat behoort te wees, want hy is volgende op die lys.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'