MOTORNUUS - Antz Vlok van Plettenbergbaai het grootgeword in die motorsport-wêreld. Sy pa was 'n renjaer en deur die jare het Antz panele en onderdele van renmotors versamel.
Twee jaar gelede, toe al die stukke van renmotors te veel geraak het om op sy erf te huisves, het hy 'n gebou op Knysna gehuur en sy motorsportmuseum is gebore.
Vroeër vanjaar het Antz vir my en sommige tydrenjaers, onder andere Mark Cronjé en sy navigator Robin Houghton, genooi om die museum te besoek.
Daar is valhelms, renpakke, spanhemde, karmodelle, motorsportfoto's en skilderye, bakwerk, boeke en alles wat iets met motorsport in Suid-Afrika te make het.
Die foto's vertel stories, regte stories. Op een van die rakke lê renbande. In 'n hoek is drie wielvellings van die Audi Quattro's waarmee Sarel van der Merwe in die 80's gejaag het. Antz weet presies uit watter enjin elke onderdeel kom. Skaalmodelkarretjies staan oral rond en van die unieke modelle is spesiaal vir Antz gebou. Onlangs nooi hy my weer om by hom en sy gas, Suid-Afrika se Mnr. V8 Willie Hepburn, by die museum te kuier.
Op 78 is oom Willie steeds aktief as renjaer.
Oom Willie het in 1965 sy wedrenloopbaan begin en neem al vir 34 jaar deel met sy Chev Rekord. Die Rekord het 'n 7-liter V8 enjin wat 880 perdekrag uitstoot.
Ons het heerlik op die stoep na oom Willie se talle stories geluister. Hy het in 1975 lid geword van die 100 myl per uur klub op Kyalami. Hy het sy Chevy 2 lekker warm gemaak, in die ou Kyalami se pylvak ingedruk en die versneller platgetrap. Hy het 'n topspoed van 143 m.p.u behaal - meer as 230 km/h! Hy het toe sommer sy Chev C10, waarmee hy die Chevy baan toe gesleep het, ook in die pylvak afgestuur en 'n verbysterende 129 m.p.u, oftewel 207 km/h bereik - en dit met 'n 1975 Chev C10 bakkie.
Nog 'n staaltjie wat oom Willie vertel, is hoe hy in die 1980's die "Animal" - sy Ford Sierra XR 8 - gebou het vir die Wesbank V8-reeks. Toe hy besef die enjinkrag is te min, vlieg hy summier Amerika toe en gaan sien die Rousch-enjinbouers.
Dié manne bou Nascar-renmotors. Hy koop toe twee silinderkoppe en 'n krukas, maar nou moet die onderdele terug Suid-Afrika toe. Om hulle in 'n krat te pak gaan te swaar en duur wees, en so is die een silinderkop in sy vrou se handbagasie gepak en die krukas en ander silinderkop in syne - swaar dra al aan die een kant!
Oom Willie is 'n enjin- en karbouer van formaat. Hy vertel hy bou by geleentheid 'n Chev Camaro. Die Camaro is eers die Vrydagaand in Johannesburg klaar gebou en die wedrenne begin die volgende dag 11:00 op Killarney in Kaapstad. Die Camaro is op 'n sleepwa gelaai en net voor middernag vat hulle die pad, maar kom eers 13:00 in Kaapstad aan. Hy het die oefening- en kwalifiseringsrondtes gemis wat beteken dat hy heel agter op die rooster moes wegspring met 'n kar wat nog nie eers getoets is nie. In rondte vyf was hy tweede en op die voorloper se stert, maar toe hy 'n bietjie haastig agter in dié vasry, moes hy onttrek.
Oom Willie het aan verskillende renformules deelgeneem, onder andere Groep1, Groep N, die vervaardigerskampioenskappe en die Wesbank V8-reeks, en baie renne gewen.
In 1990 het hy met 'n Pontiac Trans Am 427 die Suid-Afrikaanse landspoedrekord verower met 'n spoed van 372 km/h.
Oom Willie is ook die afgelope paar jaar te sien tydens die jaarlikse Knysna Hillrun in sy bekende Sabat Chev Rekord. Nou wil ek noem dat dié motor met net 'n enjin, ratkas en ewenaar en geen spesiale "toys" nie, elke jaar die Top-10 haal.
Oom Willie... Car Mag salueer jou vir wat jy vir SA Motorsport gedoen het en aanhou doen. Ons sien uit na die dag as oom 80 is en steeds agter daai Rekord se stuur vir die jongmanne wys hoe dit gedoen word.
En Antz... dankie vir jou bydrae om die geskiedenis van motorsport in Suid-Afrika te bewaar sodat ons dit kan genet en waardeer.
Dié foto vertel 'n storie. Jan Hettema (links) en Sarel van der Merwe (regs) stry na Sarel Jan se motor se deur afgery het. Jan se motor het op die baan gestaan met 'n papwiel en die oop deur was 'n groot fout!
Willie Hepburn herstel sy Opel Rekord tydens die Knysna Hillrun.
Willie Hepburn by 'n renpak wat hy vir die museum geskenk het.
Voormalige tydrenjaer Mark Cronje (agter) en sy navigator Robert Houghton bekyk items in die museum.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'