GEORGE NEWS - Miré Reinstorf (18), 'n voormalige SWD-atleet en leerling van Hoërskool Outeniqua, is die nuwe vrouepaalspringwêreldkampioen vir o.20’s. Sy het Woensdagmiddag, 18 Augustus, tydens dag een van die o.20 wêreldkampioenskappe in Nairobi, Kenia op ‘n hoogte van 4,15 m oor die dwarslat gespring.
Daardeur het sy die wêreldtitel gewen en ook ‘n goue medalje.
Shireen Noble, visepresident van Atletiek Suid-Afrika en president van Atletiek SWD, wat saam met die span is, het aan George Herald gesê behalwe die medalje het Miré ‘n persoonlike beste asook ‘n nuwe Afrika-rekord ingepalm.
“Atletiek SWD is baie trots op hul voormalige atleet. Ek is so dankbaar dat ons kon deel wees van haar ontwikkeling en groei die afgelope paar jaar. Baie dank is ook verskuldig aan Jacques Wolfaardt, haar voormalige afrigter.” Sy is die eerste Suid Afrikaner wat die titel inpalm.
Haar ouers Vinia en Peter Reinstorf, woon in George. Vinia het vanoggend gesê hulle is baie dankbaar teenoor die liewe Vader. “Dis wonderlik dat sy haar kan uitleef op die beskeie manier. Sy het die talent en sy benut dit. Sy werk baie hard.”
Die medaljeseremonie vind om 13:25 plaas. Na verneem word sal dit regstreeks op DSTV-kanaal 208 uitgesaai word.
Die Suid-Afrikaanse span keer Maandag 23 Augustus terug na Suid-Afrika.
Reinstorf het grootgeword in George en studeer op die oomblik aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy word daar deur JP van As afgerig. Sy het reeds op skool naam begin maak in die atletiekwêreld.
Miré Reinstorf Woensdagmiddag nadat sy die titel in die vrouepaalspring by die o.20-kampioenskappe in Nairobi, Kenia gewen het.
Miré se loopbaan tot voor die huidige kampioenskappe
In 2018 het Mire (o.18) Atletiek SWD by die ASA Jeug en Junior Kampioenskappe in Paarl verteenwoordig en 'n bronsmedalje verower. Sy het 3,40 m gespring.
In 2019 (o.18) verower sy goud by die ASA Jeug en Junior kampioenskappe in die Paarl met 'n 3,60 m-sprong, asook goud by ASA Senior Kampioenskappe in Pretoria waar sy 3,80 m spring. In dieselfde jaar is sy ook in ASA se voorlopige span opgeneem, wat aan die Afrika Spele in Morocco sou deelneem. Die spele is ongelukkig gekanselleer.
Sy is gedurende die tydperk deur Jacques Wolfaardt van Hoërskool Outeniqua afgerig. In dieselfde jaar is sy met haar uitstaande prestasies as Atletiek SWD se sportvrou van die jaar aangewys.
In 2021 verower sy goud by die Ussa-kampioenskappe met 'n hoogte van 3,95 m. Sy ewenaar hierdie rekord van 'n ander Matie, Elmarie Gerryts. Sy verower ook weer goud by ASA Senior Kampioenskappe met 'n hoogte van 4,00 m.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'