GEORGE NUUS - Danksy die flink samewerking tussen lede van die gemeenskap in Wilderness en plaaslike polisie, het 'n vermeende inbreker (25) sy rieme styf geloop toe hy kort na 'n voorval in hegtenis geneem is.
Dit volg ná 'n inbraak en aanranding by 'n huis in Heightsweg op Dinsdagoggend, 23 Maart, omstreeks 09:30.
Volgens die Koen-gesin se dogter, Candice (25), is sy deur die verdagte wakker gemaak na hy glo toegang tot die huis deur 'n geslote deur verkry het. Hy was met 'n staalgraaf gewapen.
"Hy het my wakker gemaak en gevra vir geld en my forseer om op te staan waarna hy my hande met 'n verlengingskoord en my voete met 'n trui vasgebind het. In daardie stadium het my ouers by die huis gekom en hy het die deur gesluit.
"My ma het aan die deur geklop en hy het my gedreig en gesê ek moet vir haar sê ek wil nog slaap. Ek het verduidelik dat my ma nie net gaan loop nie en hy het my losgemaak waarna hy in die kas weggekruip het. Ek het dadelik na my ouers gehardloop en hulle vertel van die man in my kas," het sy Dinsdagaand vertel.
Toe Candice en haar pa, Kobus, weer in haar kamer kom het die man te voet gevlug en Kobus, het hom met sy voertuig agternagesit.
'n Paar minute later het die verdagte egter teruggekeer.
"Omtrent 10 minute later, terwyl my pa nog uit was, het die verdagte ons huis deur 'n ander ingang, wat hy moontlik vroeër oopgemaak het, binnegekom en my en my ma met 'n houtstandbeeld begin jaag. Hy teiken toe my ma wat in daardie stadium voor die voordeur gestaan het en begin haar slaan met die standbeeld.
"Ek het hom met my bo-arm teen sy nek geslaan en toe hy besef ek is nog in die vertrek het hy weggehardloop. Gelukkig het my pa in daardie stadium by die hekke ingedraai en hy het gevlug," vertel sy.
Arrestasie
Die verdagte se vryheid was egter van korte duur. George-polisie se kommunikasiebeampte, kapt. Nolonwabo Tshengu, het Dinsdagaand bevestig dat die verdagte by sy woning in Parkdene in hegtenis geneem is en in aanhouding in George is.
Hy is geskeduleer om môre, Vrydag 26 Maart, op 'n klag van poging tot roof in die George-landdroshof te verskyn.
Familie dankbaar
Die Koen-gesin het hul dank teenoor die George-polisie en ander betrokkenes uitgespreek. "Ons wil opreg dankie sê aan elkeen wat by die ondersoek betrokke was. Hier was omtrent 11 verskillende polisielede - selfs die generaal was hier. Ao. [Jerome] Malan het heeldag by my vrou en my kind gesit en hulle ondersteun en getroos. Ons kan met trots sê dat George-polisie tops is. Baie dankie aan almal wat bygedra het tot die arrestasie. Die karwagte, die Wilderness-gemeenskap, George Herald en elke liewe polisielid wat betrokke is.
IN SHORT
A family is traumatised but safe after a break-in and assault at their house in Heights Road, Wilderness, on Tuesday morning, 23 March. A suspect has since been arrested in connection with the incident and is being detained at the George police station. According to George Police Communications Officer, Capt Nolonwabo Tshengu, a woman (25) was sleeping in her bedroom when she was allegedly woken up by the suspect who gained access by forcing open a door.
He demanded money and tied the victim's hands with an extension cord and her feet with a jersey. When her parents arrived home, the suspect fled on foot but later returned while the father was out looking for him. When the suspect returned he allegedly assaulted the victim’s mother with a wooden sculpture and fled the scened when the husband arrived home. Police arrested the suspect later that same evening.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'