GEORGE NUUS - Die verband wat die Braam van Huyssteen-trust hou oor eiendomme van die voormalige Steinhoff-hoof, Markus Jooste, was bloot 'n belegging.
So sê Bernard Mostert, voormalige uitvoerende hoof van Tekkie Town waarvan Van Huyssteen, 'n bekende plaaslike sakeman van George, die stigter is. Daar word ook dikwels na Van Huyssteen verwys as "Jooste se pêl".
Mostert het geantwoord op 'n navraag van George Herald oor die implikasies van 'n artikel waarin News24 verlede week berig het oor 'n verband van R75,4 miljoen, en 'n bykomende R18,8 miljoen, wat in Desember 2021 oor drie eiendomme van Jooste geregistreer is.
Die eiendomme is in Voëlklip, Hermanus geleë. Op die een eiendom is die luukse huis waar Jooste na bewering "skuil" vandat hy in 2017 uit Steinhoff bedank het toe rekenkundige onreëlmatighede aan die lig gekom het.
Mostert het aan George Herald gesê, "Dit is 'n belegging wat ons gemaak het deur skuld te koop van die finansiële krediteure van Mayfair (eienaar van Erf 2825 Hermanus wat bogenoemde eiendomme insluit) ná die ineenstorting van Steinhoff. Ons sien dit as 'n belegging en niks meer of minder as dit nie."
Die inligting oor die Van Huyssteen-trust se verband is deur News24 bekendgemaak nadat die Reserwebank verlede Dinsdag 'n voorlopige bevel uitgereik het vir die beslaglegging op van Jooste se bates (ter waarde van R1,4 biljoen) in sy familietrust, Silveroak, vir beweerde oortredings van die valutabeheermaatreëls.
Die Reserwebank sê hy het rede om te vermoed dat Jooste maatskappye in die Steinhoff-groep, asook sy voormalige renperdmaatskappy Mayfair Speculators, gebruik het om geld van Steinhoff af te kanaliseer om homself en andere te verryk.
Mostert het aan BizNews gesê Van Huyssteen word in die News24-artikel verkeerd gekarakteriseer as die persoon wat 'n verband vir Jooste aangebied het.
Aan George Herald het Mostert gesê, "Ons is nie die eienaars van die eiendom nie, net van die verband oor die eiendom. Ons besit met ander woorde die skuld. Die geld is aan Mayfair Speculators se krediteure betaal. Die eiendomme ter sprake val nie onder die hofbevel nie en die berig het gesê dit doen. Daar is verskeie ander onakkuraathede soos dat Markus Jooste die eiendom besit."
Van Huyssteen het Tekkie Town in 2016 aan Steinhoff verkoop en is grootliks in Steinhoff-aandele (toe R3,2 miljard werd) uitbetaal. Die aandele het 95% van hul waarde verloor toe die internasionale reus ineengestort het ná Jooste se skielike bedanking.
Van Huyssteen en sy voormalige bestuurspan het in Desember 2021 'n skikkings-ooreenkoms met Steinhoff aangegaan vir die verlies. Volgens News24 is die verband geregistreer kort ná hierdie skikkingsooreenkoms.
Mostert het aan George Herald gesê die verbandtransaksie hou geensins verband met hul ooreenkoms met Steinhoff nie.
Volgens die hofbevel, wat toestemming gee vir voorlopige beslaglegging op bates van die Silveroak-trust, is die eiendomme in Hermanus nie ingesluit nie, maar wel "alle roerende goedere van enige aard wat teenwoordig is op die dag van die beslagleggingsbevel op die eiendom by Tiendestraat 143, Hermanus, Wes-Kaap". Klere, kos en lewensnoodsaaklikhede is uitgesluit.
Die voorlopige beslaglegging sluit ook roerende bates in by Lanzerac-wynlandgoed waar Jooste 'n eiendom het, asook verskeie voertuie, juweliersware, skilderye en wapens.
'n Uittreksel uit die hofbevel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'