GEORGE NUUS - St Pauls Primêre Skool en Hibernia Primêr gaan volgende jaar Afrikaanse en Engelse leerders uitruil weens 'n toename in isiXhosa-sprekende leerders by beide skole wat verkies om in Engels onderrig te ontvang.
St Pauls gaan omskakel na 'n volledig Engelse skool. Die uitruiling het ten doel om onderrig en logistiek te vergemaklik.
Die ouer van 'n gr. 3-leerder van St Pauls, wat anoniem wil bly, het die koerant genader om haar en ander ouers se ontevredenheid oor die toedrag van sake te lug.
"Ouers is onlangs gevra om 'n vergadering by te woon waar die hoof ons ingelig het dat St Pauls heeltemal Engels gaan word en al die Afrikaanse leerders van gr. 1 tot 3 moet volgende jaar na Hibernia oorgaan.
"Daar is groot ontevredenheid. St Pauls was nog altyd 'n Afrikaanse skool. Dis hier in ons gemeenskap geleë. Nou word ons kinders uitgestoot. Ons wil hulle nie na 'n ander skool toe stuur nie," het die ma gesê.
Millicent Merton, 'n woordvoerder vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, het by navraag bevestig dat 89 gr. 1 tot 3 Afrikaanse leerders van St Pauls na Hibernia geskuif word, en 74 Engelse leerders van Hibernia na St Pauls.
Sy het verduidelik dat die taalprofiel van baie gemeenskappe in die Wes-Kaap verander het.
"Dis weens inmigrasie met 'n toename in isiXhosa-sprekende leerders, wat Engels as onderrigtaal wil hê."
Die verhouding van leerders by St Pauls is tans 53,5% Afrikaans en 46,5% Engels, maar volgens Merton is die geprojekteerde verhouding 27% Afrikaans, in ag genome die huidige tempo van nuwe Engelse inskrywings.
"Let daarop dat slegs 27% van leerders van gr. R tot gr. 3 by St Pauls Afrikaans is."
In reaksie op ouers se kommer dat Hibernia reeds 'n tekort aan spasie het, het Merton gesê die twee kringbestuurders het die skool besoek en bevestig dat daar tans vier klasse is wat beskikbaar gemaak kan word vir die leerders. Hulle het ook genoeg spasie om in die toekoms meer klaskamers te plaas.
Sy het gesê skole het die mag om taalbeleid te bepaal.
Die riglyne vir taalbeleid in skole is geskoei op beginsels in die Suid-Afrikaanse konstitusie en die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASW). Afdeling 6 van die Skolewet bevat 'n aantal voorwaardes met betrekking tot die bepaling van taalbeleid in openbare skole.
"Van groot belang is die mag wat die wet aan skoolbeheerliggame verleen om die taalbeleid van 'n skool te bepaal, hoewel steeds onderhewig aan die konstitusie, Skolewet en enige toepaslike provinsiale wet."
Merton het gesê die ontevrede ouer by St Pauls kan by die skool aansoek doen om haar kind in dieselfde skool te hou, met Engels as studie- en onderrigtaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’