GEORGE NUUS - Ondersoek moet gedoen word na die vertoning van die Proteas tydens Wêreldbekerkriekettoernooi in Engeland en Wallis.
So het Leroy Hector, president van die oudste krieketklub in George, die Pacaltsdorp United-krieketklub by navraag gesê. Die krieketklub bestaan al meer as 100 jaar.
Die Proteas het gemengde welslae tydens die toernooi behaal, maar in die algemeen is ondersteuners ongelukkig.
Hector het gesê dit is 'n saak van openbare belang. Hy wys nie vinger nie, maar het net soos baie ondersteuners die Proteas se vertoning dopgehou. Hy is bekommerd, want in die landelike gebiede is baie van die spelers rolmodelle vir jongmense.
"Dit was vir almal skokkend. Dis 'n bron van kommer vir plaaslike krieket as die nasionale span nie presteer nie. Krieket is belangrik in die landelike gebiede en dit is belangrik vir die bevordering van die spel dat ons nasionale span presteer."
Volgens hom is daar verskeie faktore wat 'n rol kon gespeel het in die Proteas se vertoning. Dit is waarskynlik dat hul voorbereiding nie 100% was nie. Daar is ook vrae oor die spelpatroon van sommige van die boulers en kolwers.
"Daar moet introspeksie gedoen word na hoe krieketontwikkeling op klubvlak plaasvind en hoe dit verbeter kan word. Dit kan moontlik help om dis spel te bevorder.
"Hou in gedagte dat die Wêreldbekertoernooi vir die T20 reeks reeds in 2021 plaasvind. Daar moet nou aan die werk gespring word. Krieket SA investeer baie geld in ontwikkeling in die provinsies." Hy glo Suid-Afrika het die spelers. Die krieket-infrastruktuur en hulpbronne bestaan ook. Suid-Afrika is steeds 'n krag in wêreldkrieket.
"Ons krieket is gesond, maar iewers is iets verkeerd. Ons moet begin ingestel word vir 'n wenkultuur vir die wêreldbeker. Dit lyk of die wenkultuur om een of ander rede ontbreek."
Hy het gesê in die Suid-Kaap is baie kriekettalent. "Ons kan ook Proteas oplewer. Die talent moet net reg ontgin word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'