GEORGE NUUS - Minstens twee sakeondernemings, Over the Mountain-gastehuis en -teetuin, en Herold Wines, aan die noordelike kant van die Montagupas voel die tydelike sluiting van die pas aan hul eie bas. Die ou tolhuis aan die suidekant is in 'n stadium ook nadelig geraak.
Kommer is uitgespreek dat as die saak nie gou aandag kry nie dit dieselfde pad kan loop as die Outeniqua Choo Tjoe-trein wat nie meer gebruik word nie.
Estelle Brits van Over the Mountain-gastehuis en -teetuin het gesê van die probleme het al in 2018 begin toe die omgewing deur die brande beskadig is. Dit het egter nie daar opgehou nie.
"Ons het 'n groot terugslag gekry met die twee jaar wat ons in grendeltyd moes toemaak. Ons het honderde duisende verloor, maar het ons personeel betaal in die tyd wat hulle nie gewerk het nie. Die besigheid het toe in 2022 en 2023 goed gegroei tot nou. Nou is dit 'n harde slag, want ons kan nie wéér ons personeel betaal sonder geld wat inkom nie."
Op naweke is daar 70% minder besigheid. Dit het nie net 'n impak op die sakeonderneming nie, maar ook op die gemeenskap. Die ondernemings verskaf werk. "Ons sal graag wil weet wat aan die gang is."
Nico Fourie van Herold Wines het gesê die sluiting van die pas benadeel sakebedrywighede. "Omset het met sowat 70% gedaal. Sewe uit elke 10 besoekers wat die pas gebruik maak 'n draai hier."
Volgens hom het hy pogings aangewend om die situasie op te los. "Almal wys vingers en niemand wil verantwoordelikheid aanvaar nie. Hoe langer geneem word om die pas te herstel, hoe moeiliker raak dit."
Jandré Bakker van die Wes-Kaaps departement van infrastruktuur, het gesê die pas is gesluit as gevolg van skade na ernstige reën.
"Dit is ten volle gesluit en niemand mag die pad gebruik nie, nie eens op eie risiko nie. Ons het sement keerblokke geplaas om die ingange te versper.
"Ongelukkig het mense dit met bakkies uit die pad probeer sleep. Indien padgebruikers die pad gebruik wat gesluit is kan dit tot ernstige gevolge lei. Daarom, sou dit weer gebeur, sal ons meer drastiese maatreëls oorweeg."
Volgens hom is dit gesluit vir die veiligheid van padgebruikers.
"Die idee is nie dat dit 'n permanente sluiting is nie en dat die pas heropen sal word sodra herstelwerk voltooi is. Ongelukkig moes herstelwerk gestop word weens permit-aangeleenthede. Enige pad wat gesluit word sal 'n mate van ongerief meebring en daarom wil ons herstelwerk so vinnig moontlik afhandel.
"Ons mag egter nie voortgaan alvorens al die permit- aangeleenthede opgelos is nie. Die proses is nie in ons hande nie en daarom kan ons ons nie tot 'n tydlyn verbind nie."
Volgens hom is dit permitbepalings wat uitgestryk moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’