GEORGE NUUS - Laerskool Outeniqua het gister, Woensdag 19 Mei, vir die eerste keer in maande weer op vol kapasiteit gefunksioneer nadat die skool toestemming van die onderwysdepartement se distrikskantoor ontvang het om 100% bywoning te hervat.
Dit was egter van korte duur. Vandag (Donderdag 20 Mei) en môre is die skool weer op 50% skoolbywoning geplaas nadat voldoeningsamptenare van die onderwysdistrik weer die skool besoek het om die 100% bywoning te assesseer.
Dr. Nico Venter, skoolhoof, het ouers deur middel van ‘n brief ingelig oor die skielike verandering van planne. “Die amptenare het sekere aspekte uitgewys wat aandag benodig. Ons word genoodsaak om op Donderdag 20 Mei en Vrydag 21 Mei weer op ‘n 50% skoolbywoning te funksioneer,” skryf hy.
Die skool sal op Maandag 24 Mei weer op 100% skoolbywoning funksioneer, waarna die onderwysdistrik nog ‘n assessering sal doen. Venter vra om verskoning vir die ongerief vir ouers wat skielik alternatiewe reëlings moes tref, maar sê die stand van sake is buite die skool se beheer.
Skoolbanke deurgesaag
Die George Herald se voorbladberig vandag vertel hoe die skool planne beraam het om 100% bywoning te kon bewerkstellig. Hulle het onder meer dubbelskoolbanke deurgesaag om enkelbanke te maak sodat die nodige sosiale afstand in klasse gehandhaaf kan word. Venter het Maandag gesê toestemming om al die leerders van 19 Mei af voltyds te laat terugkeer, is ontvang ná 'n inspeksie deur die onderwysdepartement se distrikskantoor. Hulle was 'n opvolgbesoek te wagte.
Die beheerliggaam was nou betrokke by die omskepping van die skoolbanke. "Dit het 'n redelike tyd gevat. Ons het dit nie net gedoen ter wille van die handhawing van afstand tussen leerders weens Covid nie, maar dis ook meer prakties tydens die skryf van eksamens en groepleersessies waar kinders in groepe moet saamwerk."
Roterende onderwysdae lei tot agterstand
JG Giliomee, Outeniqua se adjunk- en akademiese hoof, het gesê die roterende onderwysdae het definitief daartoe gelei dat 'n agterstand ontwikkel het teenoor die normale akademiese kurrikulum, al is baie moeite gedoen om die kinders so goed moontlik by te staan. Dit is gedoen deur onder meer interaktiewe lesse aan ouers te verskaf en aanlynleer moontlik te maak.
"Party kinders het meer agterstande as ander, maar faktore soos die betrokkenheid van ouers tuis en ouers wat moet werk, het alles 'n impak. Ons wil nie hê die agterstande moet groter word nie, daarom dat ons druk vir voltydse terugkeer."
Giliomee het gesê sosiale interaksie wat ontbreek, veroorsaak ook dat ontwikkeling op hierdie gebied gebrek ly. "Dit in ag genome, wil ons ook doodseker maak dat die veiligheid van ons kinders, onderwysers en ouers steeds die primêre doel bly, terwyl die akademie seëvier."
Die skool het die afgelope naweek 'n netbal- en rugbybyeenkoms gehou, maar ‘n hokkiebyeenkoms wat vir die komende naweek beplan is, kan nie meer plaasvind nie weens die onmiddellike opskorting van kontaksport gister deur die departement van basiese onderwys.
Venter het gesê alle sport by Laerskool Outeniqua word dus onmiddellik gestaak, maar kultuuraktiwiteite gaan normaal voort.
31 Mei dalk D-dag vir 100% terugkeer by laerskole
Maandag 31 Mei kan heel moontlik ‘n groot dag wees vir laerskole en skole vir leerders met spesiale behoeftes. George Herald het inligting ontvang dat onderhandelinge oor die terugkeer na normale klasgee-skedules vir dié skole onderweg is. Dit sluit hoërskole uit.
Indien die wysiging aanvaar word, sal dit beteken dat alle laerskoolkinders en kinders met spesiale behoeftes weer ‘n 5-dag skoolweek sal hê. George Herald het die voorgestelde wysiging onder oë gehad en die onderhandelinge is na verneem word op ‘n sensitiewe stadium.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'