GEORGE NUUS - As daar iemand is wat weet wat vasbyt verg, is dit Johannes Jumat, nuwe voorsitter van die George-sakekamer.
Sy lewenspad is 'n inspirasie vir baie mense wat elke dag groot treë in 'n harde sakewêreld moet gee.
Sy studies moes gestaak word as gevolg van finansiële oorwegings, hy was sekerheidsbeampte by 'n bekende gholflandgoed en 'n bank, en klerk by 'n bekende prokureursfirma, het deeltyds studeer om 'n prokureur te word en uiteindelik vennoot en besturende direkteur van dieselfde prokureursfirma.
Dit alles is deel van die 46-jarige Jumat se lewenspad. Hy is verlede week tot voorsitter van die sakekamer verkies.
Jumat is 'n man met baie hooi op sy vurk, want benewens sy verantwoordelikhede by Raubenheimers Prokureurs, is hy ook voorsitter van die beheerraad van Hoërskool Outeniqua en nou voorsitter van die sakekamer.
Jumat is gebore in George en het hier grootgeword. Hy woon vir die grootste deel van sy beroepslewe hier. Daar was al uitdagende tye in sy lewe. Hy glo dit het hom gestaal en karakter gegee om vas te byt.
Hy sien beslis kans vir die nuwe uitdaging. In 'n onderhoud met George Herald het Jumat gesê hy beskou sy betrokkenheid by die sakekamer as deel van leer. Hy het verlede jaar betrokke geraak want hy wou ook deel word van die groter sakenetwerk.
Op die oomblik is die sakekamer redelik verteenwoordigend, maar hy glo meer kan gedoen word. Daar moet gekyk word hoe die formele en informele deel van die ekonomie meer betrek kan word. "Die sakekamer verteenwoordig almal."
Volgens hom het sakekamers bestaansreg en dit moet byvoorbeeld netwerkgeleenthede aanbied.
"Daar is geen plaasvervanger vir persoonlike verhoudinge nie. Veral wat mentorskappe betref vir nuwe toetreders tot die ekonomie. Hulle het soveel om te leer. Daar is mense wat bereid is om te help met mentorskappe en help dat rowwe diamante ontgin word."
Hy het gesê daar is mense met wonderlike idees, maar hulle kort net daai hulp om dinge te doen.
Jumat het sakeondernemings genooi om betrokke te raak en te gesels.
"Ons wil waarde toevoeg en ons moet onsself help. Die sakelui moet die ekonomie dikteer. Nie die regering nie.
"As iemand 'n sakeonderneming wil begin is daar baie keer administratiewe rompslomp. Dit kan iemand ontmoedig. Dit is baie keer mense wat nie net vir hulself wil voorsien nie, maar hulle kan ook werk skep."
Die sakekamer moet leiding gee en 'n skakel wees tussen die owerhede en die sakegemeenskap.
Op die oomblik is die groot ekonomiese vraagstuk in George werkloosheid. Daar moet nie net gekyk word na bestaande ondernemings om dit te help oplos nie, maar ook na die lok van nuwe ondernemings.
Hy glo die George-sakekamer moet meer 'n stadssakekamer word. Daarmee bedoel hy dat groter gedink moet word.
Hy sal saamwerk met die plaaslike owerheid want hulle is 'n belangrike vennoot.
Johannes Jumat
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’