RUBRIEK - Dis pikdonker. Ek kan nie eers my hande sien hier waar ek alleen in 'n vreemde bed lê nie. Die "vertrek" waarin ek is, beweeg. Maar ek is nie bang en bekommerd nie. Trouens, ek is baie gelukkig en rustig.
Ek weet nie presies waar ek nou in Suid-Afrika is nie, maar ek weet ten minste my eindbestemming is Johannesburg.
Die tik-tak klank van die trein op die spoor herinner my aan die besondersheid van die oomblik. Dis 'n fisiese reis, maar ook 'n reis van die siel.
Terwyl die trein voortsnel op die spoorlyn hier êrens in die donker in Suid-Afrika, vou ek my hande agter my kop. Ek lê en staar in die donker na wat seker die kompartement se dak is.
Die trein is van Kaapstad na Johannesburg onderweg en ek keer terug na 'n paar maande se werk. Ek het besluit om eerder per trein terug te keer as per vliegtuig. Iets waaroor ek nie spyt is nie.
Vroeër die dag het ek deur die treinvenster my verwonder aan die veranderende landskap van ons mooi land. Laatmiddag/vroegaand het ek in die eetwa gaan aansit. Terwyl die son oor die Karoolandskap gesak het, het ek heerlik geëet.
Dit was vreugde vir die mond, maar ook vreugde vir die oë oor wat ek buite gesien het.
Al is die treinrit baie jare gelede, is dit nog vars in my geheue. Nadat ek onlangs vir beroepsredes 'n draai gaan maak het by die Outeniqua-vervoermuseum het ek weer teruggedink aan daardie besondere treinrit.
By die Outeniqua-vervoermuseum is daar juis verskeie dinge wat mens herinner aan Suid-Afrika se ryke treinry-geskiedenis. Benewens al die ou treinwaens en lokomotiewe, is daar ook 'n werkende stel modeltreintjies.
So 'n besoek is ideaal om treinryherinneringe van die verlede, soos die besondere treinrit, te herleef.
'n Paar dae na my besoek aan die museum gaan ek saam met 'n vriendin op 'n Sondagmiddag na 'n kettingwinkel. Ons stap verby die speelgoedrakke en sy beduie met 'n vonkel in die oog na 'n speelgoedtreintjie. Sy ken my goed. Later die middag gaan ek weer terug en bekyk die treintjie. Darem nie te duur nie en ek koop dit. Dit werk met batterye en is dus nie Eskom afhanklik nie.
In die dae daarna speel ek soos 'n seuntjie met die treintjie. Selfs soggens voor werk.
Al in die rondte reis ek op my eie reis daar op die mat van die sitkamer. Ek maak selfs 'n tonnel uit 'n kartondoos.
Die einste vriendin stel in 'n stadium voor mens moet 'n "dorpie" rondom die spoorlyn bou. Ek gaan skud die stof van my ou speelgoedkarretjies en lego-blokkies af wat in 'n tas gebêre is en plaas dit langs die spoorlyn. Selfs 'n model aandenking van die Voortrekkermonument en 'n model van 'n ligtoring kry staanplek langs die spoorlyn. Ek plaas ook speelgoed diere langs die spoorlyn en die nuwe "dorp" begin vorm aanneem.
Saans wanneer dit beurtkrag is "ry" ek ook in die donker trein. Aan die voorkant van die trein is 'n liggie en dis verbasend hoe die liggie die vertrek verlig. Ek luister ook na sy klank.
Opnuut dink ek terug aan my treinrit daardie donker nag op die trein tussen Kaapstad en Johannesburg.
Ek besef: Soms moet 'n mens op 'n "trein" klim daar in jou sitkamer en op "reis" gaan. Sit daar in die donker en herleef herinneringe. Droom weer drome soos toe jy 'n kind was.
Ek ry nou graag weer "trein". Selfs al is dit beurtkrag, bring dit lig in die donker. Dis so jammer dat infrastruktuur soos spoorlyne en stasies vervalle geraak het. Ai, ek mis regte treine.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'