GEORGE NUUS - Opgraderingswerk aan PW Botha-boulevard gaan voortduur tot in Maart 2026 en daar is kommer oor die impak wat so 'n langdurige kontrak op besigheid in die Tamsui-industriële gebied sal hê.
Dit is een van die dorp se besigste roetes en dien as skakel tussen Nelson Mandela-boulevard en Yorkstraat. Dit is ook die hoofaar na en van die Tamsui-gebied.
Tans word die PW Botha / Ossie Urban-kruising opgegradeer, 'n projek wat in Februarie begin het en in twee fases gedoen word. Gedurende die eerste fase was slegs die helfte van die kruising gesluit, maar sedert 5 Augustus met die aanvang van die tweede fase is die pad gesluit, wat verkeersvloei en toegang tot nywerhede bemoeilik.
Die aanvanklike voltooiingsdatum vir die projek was 22 Oktober, maar in 'n latere kennisgewing van die munisipaliteit is dit deurgegee as Maart 2026.
'n Sake-eienaar het by die koerant gekla dat hy uiters bekommerd is oor die effek van die werke as dit so lank gaan duur. Hy wou sekerheid hê oor die presiese werksprogram, maar kon geen duidelikheid van die munisipaliteit verkry nie.
"As 'n belastingbetaler en werkgewer voel ek dit is ongehoord dat die munisipaliteit nie op geldige navrae van besighede reageer nie. Ons besigheid is sedert ongeveer Februarie baie nadelig geraak. Na my beste wete moes hierdie werke lankal voltooi gewees het."
Jannie Koegelenberg, direkteur van siviele ingenieursdienste, het by navraag gesê die voltooiingsdatum van Maart 2026 is van toepassing op die beplande opgraderingsprojek vir die volle lengte van PW Botha-boulevard van Yorkstraat tot by Nelson Mandela. Werk aan die Ossie Urban-kruising behoort egter teen die einde van die maand klaar te wees.
Hy het gesê daar was aanvanklik nie fondse vir die herbou van die volle lengte van PW Botha nie.
"Weens die vinnige verval van die PW Botha- en Ossie Urban-kruising en talle klagtes van die publiek, het die raad munisipale befondsing beskikbaar gestel vir die opgradering van slegs hierdie gedeelte.
"Ons het die kruising dus uit die ontwerp vir die totale projek gehaal en 'n paneelkontrakteur uit ons raamwerktender, wat oor drie jaar strek, gehaal om slegs hierdie gedeelte te doen."
Die situasie het egter verander toe die munisipaliteit einde Maart gehoor het dat die nasionale departement van vervoer 'n befondsingsaansoek vir die projek goedgekeur het.
Die munisipaliteit het gevolglik R505 miljoen deur die Openbare Vervoernetwerk-toekenning (Public Transport Network Grant) ontvang, wat gebruik sal word om die res van die oorspronklik beplande werke te doen.
"Die oorblywende gedeelte van PW Botha vanaf Yorkstraat tot Nelson Mandela-boulevard, uitgesluit die Ossie Urban-kruising, is geadverteer vir tenders. Die suksesvolle tenderaar is dieselfde kontrakteur wat aangestel is vir die Ossie Urban-kruising. Die publiek moet asseblief daarop let dat daar twee verskillende verkrygingsprosesse en befondsingsbronne vir die twee projekte is."
Koegelenberg het gesê hulle wag tans vir 'n werkspermit van die departement van arbeid voordat hulle met enige werk aan die res van die pad, wat tans gesluit is, kan begin.
'n Stop-ry-stelsel sal in plek wees sodra die PW Botha / Ossie Urban-kruising voltooi word en werk aan die res van die pad begin.
Stop-en-ry sal in plek wees
"Die presiese besonderhede van die verkeerbeheer tydens konstruksie sal betyds gekommunikeer word, maar ons kan bevestig dat daar 'n stop-en-ry-verkeerbeheermeganisme in plek sal wees om toegang tot besighede te verseker. Die Ossie Urban-kruising het 'n volledige sluiting in twee helftes vereis, anders sou die Steinhoff Industriële Park vir maande afgesny gewees het sonder toegang tot hulle perseel."
Openbare skakelbeampte aangestel
'n Openbare skakelbeampte, Alewijn Dippenaar, is aangestel om met besighede in verbinding te tree en die nodige inligting aan hulle te verskaf. Hy kan gekontak word by dyndev@mweb.co.za.
Koegelenberg het gesê die munisi-paliteit sal alle terugvoer evalueer en dit sover moontlik in die konstruksie-aktiwiteite akkommodeer om ontwrigting tot die minimum te beperk. Om die werke uit te stel, is nie 'n opsie nie.
"Die herbou van hierdie hoofkorridor het al te lank agterweë gebly en om dit nog langer uit te stel, sal lei tot 'n totale ineenstorting van die pad. Dit sal 'n baie groter impak op besighede hê as wat die padwerke nou het."
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’