Só sê Tinus Nortjé, ‘n voormalige boer van die George-omgewing wat vandag eienaar van sy eie eiendomsagentskap is.
Hy het gereageer op ‘n artikel in verlede week se uitgawe waarin Hannes Mostert, eienaar van die plaas Laer Hoogekraal, verklaar het dat landbou op Hoogekraal nie volhoubaar is nie. Mostert het André Bredell, minister van Plaaslike Regering en Ontwikkelingsbeplanning, se besluit om Lagoon Bay se hersoneringsaansoek af te keur, skerp gekritiseer. Die area is as landbougebied gesoneer en die Lagoon Bay-ontwikkelaar beoog twee 18-putjie gholfbane en 1500 eenhede asook ‘n hotelontwikkeling op die grond.
"Dit was een van die hoogs produserende plase in die distrik. Grond wat landbou gesoneer is, moet landbougrond vir die nageslag bly," sê Nortjé in ‘n brief aan die George Herald.
Ander prentjie
Die George Herald het Stephan Gericke, ‘n gesaghebbende in plaaslike boerdery-kringe, om kommentaar genader. Hy was dit eens dat daar wel eentyd groot oeste op Hoogekraal gelewer is, maar sê dit was teen verliese, en daarom is dit uiteindelik ge-staak. "’n Boer se winsmarge is so klein - 4% tot 5%. As jy alle kostes van ‘n boerdery in ag neem - nie net die direkte produksiekoste nie - is dit nodig om op groot skaal te boer. Boere wat volhoubaar boer, is gewoonlik gevestigde boere wat nie meer skuld op hul grond het nie, soos die agt boere wat vir Tikketai lewer.
"‘n Mens kan nêrens meer in George se omgewing die koste aangaan om grond te koop en dan winsgewend daarop boer nie. Die grond is net te duur. As ‘n groot boer die Hoogekraal-grond teen ‘n belaglike prys huur, miskien wel daar. Maar daar is nie water nie en om water uit die Maalgaterivier te pomp, is ontsaglik duur, want jy moet baie hoog boontoe toe pomp. Verder is die grond daar van ‘n tipe wat ons noem ‘blou sande’ - dit is arm en jy moet baie insit om iets uit te kry.
"So al was daar eens landboupotensiaal op die grond, het dit weens baie faktore deur die jare so verminder dat dit nou nie meer bestaan nie. Die minister het ‘n fout gemaak. Hy moet toelaat dat Lagoon Bay voortgaan, maar met voorwaardes soos dat dit sal inpas in die kusomgewing. Dan kan ons eerder die ware goeie produserende grond nader aan die berg bewaar."
Gericke deel Mostert se opinie dat gebiede soos Glentana wat reg voor op die kus ontwikkel het, nooit toegelaat moes gewees het nie omdat dit erge versteuring van die kuslyn verteenwoordig.
Die grootste opposisie teen Lagoon Bay kom uit die geledere van huiseienaars in Glentana, en die "ongewenste" impak op die omgewing is van die besware wat hulle opper.
50 jaar grondplan nodig
Volgens Gericke het George ontwikkel op die beste landbougrond in die distrik - dit het ook die hoogste reënval en nabygeleë riviere. "Dit is maar die gevolg van die natuurlike ontwikkeling van ‘n gemeenskap, maar ek meen die munisipaliteit behoort ‘n duidelike 50-jaar grondplan daar te stel sodat almal kan sekerheid hê oor hoe die owerheid toekomstige uitbreiding wil laat plaasvind.
"Dit kan help om landbougrond se pryse op ‘n meer realistiese en bekostigbare vlak te kry. Onrealistiese verwagtinge is deur die eiendomsbedryf geskep in die laat 90’s en vroeë 2000 weens ‘n ongewone ople-wing in die ontwikkeling van leefstyloorde. Grond se markwaarde is kunsmatig opgejaag deur mense wat grond gekoop het met geld wat hulle nie in die landbou gemaak het nie. Hulle boer dan nie daarop nie.
"Die Blanco-area in die weste en Hoekwil-area in die ooste is voorbeelde van waar mense tussen die beste landbougrond met aktiwiteite begin het wat niks met boerdery te doen het nie. Dit sit druk op infrastruktuur in die landbougebied en jaag die grondpryse op."

Een van die verlate geboue op plase en kleinhoewes by Hoogekraal.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS