GEORGE NUUS - Die inwoners van Oewerstraat in Denneoord sorg vanjaar oor die Kersseisoen weer vir 'n lieflike fees vir die oog met 'n wonderwêreld van Kersliggies.
Dis vanjaar ekstra mooi en soos in die verlede samel hulle weer geld en donasies in vir 'n goeie doel.
Die organisasies wat hulle vanjaar wil help, is Odin, Childhood Cancer Foundation (Choc) en die Wes-Kaap Bloeddiens.
Daar sal 'n stortbak (skip) in die straat wees vir donasies vir Odin se honde, soos kos en komberse. Mense kan hul donasies van 10 Desember tot 4 Januarie in die bak gaan plaas.
Daar sal 'n gelukstrekking wees ten bate van die bloeddiens. Mense wat by die bloeddiens gaan bloed skenk, kry 'n gratis inskrywing, of 'n kaartjie kan van 16 tot 23 Desember in die straat gekoop word.
Choc sal ook 'n kraampie hê waar van hulle goedere te koop sal wees soos hoede, skryfbehoeftes, kosblikke en nog meer.
Inwoners van omliggende strate in die buurt het ook liggies aangeskakel.
Dis elke jaar 'n heerlike geleentheid vir 'n familie-uitstappie.
Besoekers word genooi om die liggies en vreugde saam met die inwoners te kom geniet. Die inwoners rig 'n vriendelike versoek aan besoekers om Oewerstraat vanaf die eerste ingang by die stop in
St. Paulstraat binne te gaan om sodoende verkeersvloei en voetgangers se veiligheid te verseker.
'n Kersvader hou wag in een van die tuine in Oewerstraat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’