Update
GEORGE NUUS - Die beskuldigde, Timothy Ova (54) van Albertinia, wat daarvan aangekla word dat hy twee klein dogtertjies, Jacorene Vaaltyn (9) en Sharon Arries (10) in September verlede jaar by sy huis in Janfiskaalstraat vermoor het, het vandeesweek onskuldig gepleit op al vyf aanklagte teen hom.
Die verhoor dien voor regter Matthew Francis in die rondgaande hooggeregshof in George en is vir die volgende drie weke op die rol geplaas.
Ova staar twee aanklagte van moord, een van dwarsboming van die gereg, een van die onwettige besit van ammunisie en een aanklag van onsedelike aanranding, wat spruit uit 'n voorval wat in 1999 in die Kaap plaasgevind het, in die gesig.
Jacorene se liggaam is in 'n gat, van sowat 800 cm diep, onder Ova se bed gevind, terwyl Sharon se liggaam in 'n blou plastiekdrom in die badkamergedeelte van die sinkhut was. Die kinders se liggame was in wit lakens toegebind.
In sy pleitverduideliking, wat Maandag 23 Oktober met die aanvang van die verhoor deur sy regsverteenwoor-diger in die hof op die rekord ingelees is, sê Ova dat die gat in sy huis waarin klein Jacorene se liggaam gevind is, reeds jare voor die tyd daar was.
'n Gedeelte van Ova se sinkhut, wat aan die hoofhuis op die perseel vas is, is glo oor die gat gebou en weens verskeie inbrake het hy besluit om die gat met sandsakke as 'n lokval (booby-trap) in te rig om enige voornemende rowers vas te trek.
Hy ontken egter dat hy enigiets met die kinders se moord te doen gehad het en sê in sy pleitverduideliking dat hy met sy aankoms tuis, gesien het die gat was oop en ná hy drie van die sandsakke verwyder het, het hy die dogtertjies se liggame in die gat gevind.
Beskuldigde in hegtenis
Ova is op Vrydag 23 September 2022 in Albertinia in hegtenis geneem ná Jacorene en Sharon se liggame die vorige dag by sy huis ontdek is. Hy was nie tuis ten tyde van die grusame vonds nie. Die kinders is Woensdag 21 September as vermis aangemeld.
Die hof het Dinsdag gehoor dat daar sand in albei se gesigte was, op hul arms, bene en hul klere. 'n Nadoodse ondersoek is op die oorledenes in George gedoen. Beide slagoffers is glo weens versmoring dood en daar was glo sand in elkeen se lugweg. Die meisies is vermoedelik gelyktydig vermoor.
Twee byle en 'n hamer is ook op die toneel gevind. Die hamer het ook sand opgehad en die onderkant van die gat was ook met sand bedek.
Sedert die aanvang van die verhoor het daar reeds meer as ses mense getuig waaronder 'n minderjarige seun, die kinders se ma's, Sharon se pleegma en 'n konstabel van Albertinia, Ashwell Gelderblom, wat een van die eerstes op die toneel was. Daar is sowat 30 getuies in die saak wat vir die volgende drie weke op die rol geplaas is.
Gelderblom is glo deur Jacorene se pa en nog 'n man na die toneel ontbied terwyl hy [Gelderblom] op pad was na 'n ander klagte in die gebied.
Tydens sy getuienis het die hof gehoor die twee mans het hom na die toneel vergesel. By die hut aangekom het ooggetuies op die toneel gesê dat daar iets onder die bed is. Hulle het die bed opgetel en Jacorene se lyk gevind.
Kort daarna is Sharon se liggaam in die drom gevind. Ova was nie tuis nie.
In haar getuienis het Ova se destydse buurvrou en kollega, Elsie Prins, wat saam met hom by die Garden Route Game Lodge gewerk het, aan die hof vertel dat hy die Donderdagoggend voor die kinders se lyke gevind is, in sy werksklere by haar huis opgedaag het om vir haar te sê dat hy glo daardie dag Kaap toe moes ry om 'n familielid se begrafnis by te woon. Dit was glo sy rede hoekom hy nie Donderdag gaan werk het nie.
Ova het Dinsdag tydens sy pleitverdui-deliking aan die hof gesê dat klein Jacorene gereeld by sy huis was om te vra vir kos of geld. Volgens hom het sy ook gereeld gekla dat haar ma se nuwe kêrel haar aanrand en dat haar ma haar vir lang tye by die huis alleen los. Die ma het dit ontken.
Ova word deur Legal Aid SA verteenwoordig is sedert sy inhegtenisname in aanhouding. Advokaat Lenro Badenhorst is vir die staat.
Die ondersoekbeampte in die saak is ao. Alistair Rezant van die Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’