Update
GEORGE NUUS - 'n Graad-11 leerder van Hoërskool Outeniqua, Jaco Jacobs (17), gaan Suid-Afrika by die 2022 Global Youth Science and Technology Bowl (GYSTB) wetenskapuitstalling in Hong Kong virtueel verteenwoordig met sy ingenieursontwerp - 'n drukreguleerder vir fietsbande.
Hierdie geleentheid vind eerskomende naweek, van 10 tot 12 Junie plaas. Jaco is een van twee tieners in die land wat deur Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes gekies is om dit by te woon. Die ander seun is Nicolaas Moolman (18) van Hoërskool Volksrust in Mpumalanga.
Jaco het 'n stelsel ontwerp wat gebruik kan word om die druk in fietsbande outomaties te reguleer; terwyl Nicolaas se navorsing ondersoek of indringerplante gebruik kan word om die mikrobiese bederf van vars voedselprodukte te voorkom.
Jong wetenskaplikes van oor die wêreld kompeteer en die prysuitdeling word Sondag 12 Junie om 14:15 uitgesaai op Facebook Live: GYSTB 2022 Awards and Closing Ceremony. Jaco se onderhoud met die beoordelaars word Saterdagoggend 11 Junie om 09:45 tot 10:00 op Facebook Live uitgesaai. Volg die skakel.
Jaco Jacobs (17) tydens sy deelname aan die School Cycling Series by Oakhill in Knysna. Foto: Lize-Mari Jacobs
Jaco se drukreguleerder
Jaco se ontwerp vir die regulering van banddruk kan deur beide professionele fietsryers en die wat slegs vir ontspanning ry, benut word.
"Jy gaan nie op die teerpad ry met bande wat nie styf gepomp is nie en op 'n grondpad hang dit af hoe rof die grondpad is. As daar boomwortels is kan jy die bande sagter stel," het Jaco verduidelik.
"Die druk word outomaties gereguleer, maar die fietsryer stel die stelsel volgens die pad wat hy/sy ry. My volgende mikpunt is om die stelsel te verander dat die volgende prototipe 'n linêre bewegingssensor bevat, wat self die tipe pad aanvoel en volkome geoutomatiseer is. Tans moet die fietsryer self die stelsel stel en die banddruk word daarvolgens outomaties verander."
Jaco ry gereeld fiets - bergfiets en padfiets, en het al baanfiets probeer. "Toe ek aanvanklik in gr. 8 gehoor het van die Eskom-ekspo het ek geweet ek wil graag deelneem, maar ek het nie geweet waar om te begin nie.
"Ek het intussen ernstig begin fietsry en ek het besef daar is 'n behoefte vir so 'n stelsel. Dit is wat aanleiding gegee het tot hierdie prototipe."
Jaco se raad vir ander voornemende jong wetenskaplikes is: "volg jou passie - dit is waar jy jou beste idees vir 'n projek gaan kry."
Trots verby
"Ons is verskriklik trots op Jaco en bly dat hy so ver gevorder het," het Sonet Strydom, provinsiale administratiewe assistent vir die Eden/Karoo-streek, gesê. "Jaco het gevorder van die streekkompetisie, na die internasionale kompetisie in Johannesburg, van waar hy gekies is om aan die uitstalling in Hong Kong deel te neem."
Op 'n vraag oor hoe hy voel oor sy deelname aan die wetenskapuitstalling in Hong Kong, het Jaco gesê: "Dit is nie iets wat ek aan die begin verwag het nie, maar iets waarna ek baie uitsien." Hy noem juffrou Yvette Pitts van Hoërskool Outeniqua as die persoon wat hom gehelp het om die taak deur te sien, "veral aan die begin toe als nog nuut was". Volgens Pitts was haar grootste rol om hom te motiveer. "Die res was sy harde werk," het sy gesê. "Die skool is ongelooflik trots op Jaco. Die feit dat hy hierdie vaardighede op so 'n jong ouderdom aangeleer het en internasionaal gaan deelneem gee hom 'n voorsprong in sy portuurgroep."
'n Durbanse aanlynradiostasie, Markaz Sahaba Online Radio, het Maandagmiddag 6 Junie met die jong wetenskaplike oor sy uitvinding gesels.
Prototipe 4: hierdie stelsel word aan die fietswiel vasgemaak en word koordloos, deur Bluetooth, deur die fietsryer beheer.
Aanvoeling vir ontwerp
In hul verklaring verduidelik Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes dat Jaco gekies is vanweë sy uitgebreide kennis en aanvoeling vir ingenieursontwerp, en sy begrip van die veranderlikes wat fietsryprestasie beïnvloed: "Sy vierde prototipe 3D-gedrukte ontwerp pas banddruk outomaties aan terwyl die fiets beweeg.
"Deur 'n lugvrylaatklep te gebruik wat ontwerp is om met 'n servomotor te werk, het die prototipe 'n monteerbare bêreplek vir die elektronika. Die jong wetenskaplike het die kode geskryf wat die toestel in staat stel om inkomende data soos lae druk te bestuur en die banddruk dienooreenkomstig aan te pas."
• Registrasie vir leerders (gr. 4 tot 12) van die Eden/Karoo-distrik vir Eskom-ekspo 2022 sluit 22 Julie. Alle projekte moet teen 26 Julie aanlyn opgelaai wees.
Vir meer inligting besoek www.exposcience.co.za.
Prototipe 4: hierdie stelsel word aan die fietswiel vasgemaak en word koordloos, deur Bluetooth, deur die fietsryer beheer.
Prototipe 4: Die drukreguleerder wat Jaco ontwerp het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'