Gallery
GEORGE NUUS - Hibernia Primêr het 78 graadeens ingeneem wat in twee klasse ingedeel is. Dis dieselfde as verlede jaar.
Volgens die adjunkhoof, Bernadette Hoogbaard, het die skool tot voor die eerste skooldag baie ouers moes wegwys. "Ons klasse was al vroeg verlede jaar vol met die sluiting van die aansoeke."
Die skoolhoof, Wilbur Pedro, sê hulle is gereed vir die skooljaar, maar daar is groot uitdagings. "Groot klasse van tot 40 kinders in 'n klas bly 'n tameletjie. Dit sou die ideaal wees om slegs 30 en minder kinders in 'n klas te hê, veral in die grondslagfase. Vanoggend het daar steeds ouers gekom om kinders in te skryf en dis moeilik om vir hulle te verduidelik dat daar nie plek is nie."
Hy het gesê die fisiese ruimte sowel as voorsiening van ekstra onderwysers is problematies. Die skool is verlede jaar amptelik van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) oorgedra aan die Wes-Kaapse departement van onderwys en daarna is 'n gedeeltelike opknapping gedoen om fasiliteite soos die toilette leefbaar te maak. "Die skool is in 1955 gebou, maar die gemeenskap het intussen baie gegroei. Ons is 'n nie-skoolfondsskool so ons kan nie skoolfonds afdwing nie. Finansies bly dus 'n uitdaging. "
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'