GEORGE NUUS - Hazel Jonker, ’n bekende historikus van Oudtshoorn, sal op Woensdag 20 Augustus om 10:00 ’n boeiende praatjie by die Suid-Kaapse tak van die Genealogievereniging van Suid-Afrika in die George-museum aanbied.
Jonker het in Februarie vanjaar die St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan besoek. Die eiland is sowat 1 900 km wes van Suid-Afrika geleë en val onder Britse beheer.
Wat begin het as ’n persoonlike reis om haar eie familiegeskiedenis te ondersoek, het vinnig ontwikkel in ’n fassinerende ontdekking van die eiland se ryke en minder bekende geskiedenis.
Volgens Henry Hill, voorsitter: Suid Kaap Genealogie, het sy tydens haar besoek opnuut besef watter belangrike rol St. Helena gespeel het in die geskiedenis van Suid-Afrikaners.
Onder andere is sowat 6 000 Boerekrygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog van 1900 tot 1901 na die eiland verban, en hulle verhaal vorm ’n belangrike deel van haar praatjie.
Verder sal Jonker ook insig gee in die eiland se belangrike, maar dikwels oor die hoof gesiene, rol in die stryd teen slawerny.
Gedurende die 1840’s het St. Helena ’n sleutelposisie ingeneem in die onderbreking van die trans-Atlantiese slawehandel tussen Wes-Afrika en die Amerikas.
Die eiland is natuurlik ook bekend as die plek waar Napoleon Bonaparte, die beroemde Franse generaal, sy laaste dae deurgebring en gesterf het nadat hy daarheen verban is.
Enige belangstellendes is welkom om die geleentheid by te woon.
Hazel Jonker, ’n bekende historikus van Oudtshoorn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’