GEORGE NUUS - 'n Groot eer het ‘n sakeleier van George, Michael du Plessis te beurt geval. Du Plessis, die stigter en dryfkrag agter Grow Green Organics, het ‘n spesiale toekenning van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi), Netwerk24, Die Burger en die Kaapstadse Sakekamer ontvang.
Hy is tydens ‘n spoggeleentheid in Kaapstad op Donderdag 12 September in die afdeling Opkomende Sakeleier saam met Abri Ferreira van Alert Patrol van Oudtshoorn vereer. Ferreira is as Opkomende Sakeleier van die Jaar aangewys.
Altesaam agt inskrywings van regoor die Wes-Kaap is in die afdeling ontvang en Ferreira en Du Plessis is as die toptwee aangewys.
Du Plessis (49) het sterk bande met George en het reeds diep spore in die sakewêreld gestap. Hy was al twee keer (in 2016 en 2023) die George-sakekamer se sakeleier van die jaar. In 2014 was hy die naaswenner.
Die lang pad wat hy in die sakewêreld geloop het, dien as inspirasie vir talle. Van ‘n klein begin met net ‘n Toyota-bakkie en agt mense in diens, het dit sedert 2007 gegroei tot ‘n onderneming wat vandag aan minstens 110 mense werk verskaf.
Aanvanklik het Grow Green Organics net kompos vervaardig, maar deesdae bestaan dit ook uit drie ander afdelings, Grow Green Plant Hire, Grow Green Holdings en Grow Green Logistics. Planne is in die pyplyn om dit uit te brei na nog ‘n afdeling, Grow Green Mining.
Du Plessis kom oorspronklik van Potchefstroom en het in 1993 in George beland. Aanvanklik het hy saam met sy pa, Jan geboer. Nadat sy pa die plaas verkoop het, het Du Plessis ander dinge aangepak soos onder meer ‘n melkery, ‘n vervoeronderneming, en hy het selfs lekkergoed verkoop.
“Dit was ‘n tyd van min slaap en harde werk,” vertel hy.
Sy lewe het ‘n nuwe koers in die vroeg 90’s ingeslaan toe ‘n plaaslike sakeman hom gevra het of hy nie betrokke wil raak om kompos te vervaardig nie. Later het hy die alleeneienaar geword.
Van daar het dinge begin gebeur. Deesdae versprei die onderneming landswyd. Dit gaan egter nie net oor wins nie en dis bekend dat die groep terugploeg in die gemeenskap.
Sy twee seuns, MC en TG, is saam met hom betrokke en dit maak sy werklas aansienlik ligter.
Volgens Du Plessis is die redes vir hulle sukses harde werk, kwaliteit produkte en goeie kliënte verhoudinge. Hy sal mense aanbeveel om hul eie sakeondernemings te begin, maar hy benadruk hulle moet die wil hê om dit te bedryf.
Dr. Willie Cilliers, uitvoerende hoof van die AHi, sê vir dié instansie gaan dit oor die ontwikkeling van klein sakeondernemings. “Die erkenning van Abrie en Michael is tekenend van die AHi se rol deur sy sakekamernetwerk. Klein besighede is die hartklop van die ekonomie en lewer ‘n groot bydrae tot werkskepping in Suid-Afrika wat in alle gevalle bevorder moet word.”
Die AHi voeg daad by die woord en as deel daarvan sal verdere erkenning in verskeie afdelings vir mense en maatskappye se bydraes in die sakewêreld gegee word tydens die instansie se kongres wat op 7 en 8 November in Oudtshoorn gehou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’