GEORGE NUUS - Blyth Thompson van George het op Sondag 29 November by die Bybelmonument in Grahamstad die nuwe Afrikaanse 2020-Bybelvertaling ontvang van Johan Uys, ’n direkte nasaat van Jacobus Uys.
Dié oorhandiging namens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het plaasgevind tydens die bekendstelling van die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.
Thompson (92), 'n lid van die George-hospitaal se raad, het onlangs van Covid-19 herstel. In 1820, vanjaar 200 jaar gelede, het die Britse setlaars voet aan wal gesit.
Op 23 Augustus 1820 is die South African Bible Society, ’n hulpvereniging van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap, in Kaapstad gestig. Hulle aanvanklike doel was om Bybels vir die inwoners van die Kaap beskikbaar te stel.
Hierdie klein hulpvereniging het gegroei tot wat ons vandag ken as die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. In 1933 het die Bybelgenootskap die Bybel in Afrikaans gepubliseer.
Met die oorhandiging van die nuwe 2020- Afrikaanse vertaling aan ’n direkte afstammeling van die Britse setlaars, vier die FAK nie net die nuwe Afrikaanse vertaling nie, maar gee ook erkenning aan die waarde wat die Britse setlaars oor twee eeue tot Suid-Afrika toegevoeg het en die besondere vriendskap wat tussen Afrikaners en die Britse setlaars op die destydse Oosgrens ontstaan het.
Die nuwe Afrikaanse 2020-Bybelvertaling.
In April 1837 naby Grahamstad het Thomas Phillips namens die Britse setlaars ’n Bybel aan die Uys-trek oorhandig wat as deel van die Groot Trek die Oosgrens verlaat het.
Die Bybelmonument, net buite Grahamstad, is op die presiese plek gebou waar die Uys-laer in 1837 gestaan het en die Statebybel 183 jaar gelede deur Blyth se voorouer, Roland William Thompson, aan Jacobus Uys oorhandig is.
Rowland William Thompson het die woord gevoer. Hy het verduidelik dat die gebaar ’n simbool van vriendskap, vrede en welwense is. In die Voortrekkermonument is die gebeure in ’n marmerfries verewig, maar meer nog, die oorspronklike Uys-Bybel word in die monument bewaar.
Direkte nasaat van die Britse Setlaars, Blyth Thompson en 'n nasaat van die Voortrekkers, Johan Uys.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is die verskyning van ’n nuwe Afrikaanse Bybel nie net belangrik vir die kerk nie, maar het dit in ’n tyd waar Afrikaans op soveel terreine uitgeskuif word ook groot kulturele betekenis.
"Die Bybel is immers steeds die fondament waarop blywende vriendskappe en goeie verhoudinge in die land gebou kan word. Dit is vir die FAK belangrik om met die gebaar van vriendskap erkenning te gee aan die groot historiese rol wat die Britse setlaars in ons land gespeel het en steeds vervul," het Langner gesê.
Blyth Thompson het vertel oor die Thompson-familie en hulle verbintenis met en betrokkenheid by hulle Afrikaanse landgenote. "In die sestigerjare is ek as die voorsitter van The South Africa Society in Londen genooi om ’n referaat te lewer tydens die internasionale kongres oor kommunisme wat in die stadsaal in Pretoria gehou is.
Die granietborde by die Bybelmonument wat aangebring is met die woorde van William Thompson, Blyth Thompson, se grootoupa.
"My toespraak was getiteld ‘The illusion of kindness’. Aan die einde van my toespraak het die gehoor soos een man opgestaan en Die Lied van Jong Suid-Afrika vir my en my oorlede eerste vrou, die moeder van my kinders, gesing.
"Ek was diep geroer hierdeur, maar dit was nie ’n huldeblyk aan my familie nie, waarvan twee lede prominent in die Verenigde Party en een lid in die Progressiewe Party was, terwyl ek genooi is om by die hoofkomitee van die Nasionale Party aan te sluit."
Hy het verder uitgebrei en vertel: "Wat ek wil beklemtoon, is die woorde van simpatie en vriendskap van my oupagrootjie wat op die Bybelmonument herdenk is."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'