Dié opgradering word vir 2015 beplan en sal teen heersende pryse sowat R20 miljoen kos. Die eerste 4 km van die gruispad gaan na 'n teerpad opgegradeer word.
Heelparty inwoners is nou lank al warm onder die kraag oor dié gevaarlike pad en oor die potensiële gevaar wat dit vir motorbe-stuurders en veral skoolkinders inhou. Skoolbusse, groot melktenkers en vragtrokke wat tot vyftig mense op 'n slag vervoer, maak die pad lewensgevaarlik, sê hulle. Die grondpad word glo nie "gereeld" geskraap nie en as dit wel gedoen word, is dit van "minderwaardige gehalte" en word dit ook hopeloos te smal geskraap.
Boonop is die pad vol slaggate en as dit reën is dit feitlik onbegaanbaar. En op 'n droë pad kan mens beswaarlik verder as drie meter voor jou sien soos die stof van al die geryery opslaan.
Mnr. Juan Prodehl, Eden se distrikspadin-genieur, sê die opgradering van onder andere die Geelhoutboompad is lankal in hul visier, maar dis nou 'n voldonge feit dat werk aan dié padwerk in 2015 sal begin. Maar dié projek kan skipbreuk ly as iets onvoorsiens, soos ernstige vloedskade, die Eden-distriksmunisipaliteit dwing om sy fokus en hulpbronne na ander dringender sake te verskuif.
"Ons werk op 'n 3-jaar vooruitbeplanning en het die Geelhoutboompad juis vir opgradering in 2015 geskeduleer. Maar as iets skielik voorval, sal ons noodgedwonge ons planne moet verander om só 'n krisis die hoof te bied."
Hy gee toe die pad hou 'n gevaar in vir motorbestuurders en ander padgebruikers en sê dat hulle met beperkte bronne wel probeer om die paaie "gereeld" te skraap. Dié taak word telkens bemoeilik as dit kort-kort reën.
Mnr. Stefan Gericke, voorsitter van die George-landbouvereniging, reken egter die Eden-distriksraad doen goeie werk, gegewe hul beperkte hulp- en geldbronne. "Ek het die grootste respek vir die werk wat die mense onder moeilike omstandighede in die landelike gebiede moet doen."
Hy sê met die aanhoudende reën is dit onmoontlik om die paaie gereeld te skraap, want al die gruis sal weggeskraap word. Hy is self bekommerd oor die gevaar wat die Geelhoutboompad inhou en meen die verkeersdruk op die pad het die afgelope paar jaar skerp toegeneem met al die nuwe ontwikkelinge in die landelike gebiede. Dit het uiteraard groter druk geplaas op die paaie, infrastruktuur en ook groter besoedeling in die hand gewerk.
Volgens Gericke is die grootste enkele pro-bleem dat bestuurders, veral dié wat swaar voertuie bestuur, nie by die spoedgrens van 60 km per uur op landelike paaie hou nie. "Dié landelike paaie sal tot vier keer langer hou as mense hou by die spoedbeperking wat op dié paaie geld. Die padmateriaal is beslis nie geskik vir hoë spoed nie."
Mnr. Japie Strydom, waarnemende direkteur: paaie van die Eden-distriksmunisipa-liteit, sê paaie word in siklusse geskraap nadat faktore soos reënval, die dikte van die gruis en die verkeersdruk in berekening gebring word. "Volgens ons optimiseringsmodel het die Geelhoutboompad een van die hoogste onderhoudsiklusse in die distrik."
As reën nie die paaie heeltemal verspoel nie, bestuurders van veral swaar voertuie hou by die spoedgrens en Eden se geldsake bly uit die rooi), kan die Geelhoutboompad in 2015 'n veilige deurgang aan voetgangers en motoriste bied. En spog met 'n nuwe baadjie!
* The Geelhoutboom Road just outside Blanco, which has been described by some residents as "the ideal place for an accident to occur" will be upgraded in 2015 at a cost of (currently) R20-million. The first 4km of gravel road will be tarred.

Die Geelhoutboompad net buite Blanco het een van die hoogste onderhoudsiklusse in die distrik. Dit word gereeld geskraap, maar reënbuie en swaar verkeer omskep dié pad soms in 'n nagmerrierit vir padgebruikers.
ARTIKEL EN FOTO'S: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-JOERNALIS