GEORGE NUUS - Dit is amper drie weke na die wyd gepubliseerde protesoptog deur Gwaiing Aksiegroep (GAG) en ander rolspelers, waar kapsie gemaak is oor die manier waarop munisipale beamptes en die polisie teenoor kampeerders by die Gwaiingriviermond opgetree het.
'n Memorandum is op 28 Januarie aan die owerhede oorhandig en terugvoer is afgewag.
George-munisipaliteit het by navraag hul volle terugvoer oor die wye verskeidenheid kwessies wat in die griefskrif aangeraak is, aan George Herald beskikbaar gestel.
Lees die volle munisipale terugvoer, sowel as die oorspronklike griefskrif hier:
- Munisipale terugvoer op griefskrif van GAG.
- Memorandum (griefskrif) wat aan George-munisipaliteit oorhandig is.
- Memorandum (griefskrif) wat aan die polisie oorhandig is.
Blanche Benjamin, voorsitter van GAG, het Woensdagoggend, 15 Februarie, bevestig dat hulle ook terugvoer van George-munisipaliteit ontvang het. GAG het egter Dinsdagaand, tydens 'n vergadering, besluit dat hulle geen verdere kommentaar oor die saak aan die media wil gee nie.
Op 'n vraag of hulle die kwessies verder gaan neem, het Benjamin geantwoord dat sy nie daarop kommentaar gaan lewer nie. GAG se mediabeampte, Donovan Hantam, het aanvanklik (Dinsdagmiddag) terugvoer op navrae beloof, maar het nie Woensdagoggend op 'n oproep gereageer nie.
Rassisme en kampering
Die eerste kwessie in die griefskrif handel oor die munisipaliteit se beweerde rassistiese agenda teen die gemeenskap. In hul terugvoer verskaf die munisipaliteit 'n gedetailleerde uiteensetting van hul beleid en ontwikkelingsplanne.
Oor die kampeerdery by Gwaiing, verduidelik die munisipaliteit dat tente slegs opgerig kan word in aangewese areas en dat dit geld vir alle strande.
"Die enigste verskil is dat die strandgangers by die ander strande gehoor gegee het deur te voldoen aan versoeke om nie tente in nie-aangewese areas op te slaan nie, terwyl dié by Gwaiing geweier het om gehoor te gee en tot geweld toevlug geneem het," lees 'n uittreksel van die terugvoer.
"Julle het verskeie aantygings gemaak wat eenvoudig nie waar is nie. Die onwettige kampeerders het, ná herhaalde versoeke dat hulle hul tente moes verwyder, versuim om aan die verordening te voldoen. Verder is drie wetstoepassers tydens die uitvoering van hul pligte aangerand. Die ablusiegeriewe is ook gevandaliseer. Die munisipaliteit het 'n wetlike verpligting om sy eiendom te beskerm en sy personeel te beskerm."
LEES MEER: GAG soek g'n muilband oor Gwaiing
Volgens die munisipaliteit was daar geen rede om die skare te beheer nie, aangesien slegs twee tente ter sprake was wat die bywet verontagsaam het. Hulle het benadruk dat skarebeheer deur die publieke orde polisie (Pops) uitgeoefen word en nie die munisipaliteit nie.
"Die munisipale amptenare het die toepaslike verordening toegepas en opgetree binne die bevoegdhede wat ingevolge wetgewing aan hulle verleen is. Indien die benadeelde party hierdie aangeleentheid in die regsdomein geplaas het, moet hul prokureur op rekord met die munisipaliteit se prokureur skakel rakende hierdie aangeleentheid."
Blanche Benjamin (regs), voorsitter van GAG.
Ander kwessies
Van die ander kwessies waarop terugvoer gegee is sluit in plaaslike ekonomiese ontwikkeling, wetstoepassing, Codeta-taxi's, toerisme, dienslewering en veiligheid en sekuriteit.
LEES MEER: Arrestasie by Gwaingmond toe polisie tente afbreek
Onder die hofie "Taxis - Codeta", voer die munisipaliteit aan dat die taxigroep, Codeta Disadvantaged Taxi Association, nie amptelik geregistreer is by die kantoor van die provinsiale taxi registrateur nie. "Hulle het dus geen locus standi as 'n vereniging nie en geen wetlike regte om minibus-taxi tipe dienste in die George area te verskaf nie."
Die protesoptog deur Gwaiing Aksiegroep (GAG) en ander rolspelers het op Vrydag 28 Januarie plaasgevind. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'