GEORGE NUUS - 'n Dagkampeerder wat deel is van die Gwaing-aksiegroep, is gister (Donderdag 30 Desember) in die dagkampeerarea by die Gwaingriviermond in hegtenis geneem.
Dit het gebeur nadat 'n onderonsie tussen dagkampeerders en lede van die polisie en munisipale wetstoepassingsbeamptes ontstaan het.
Die polisie se hulp is glo deur die wetstoepassingsafdeling ingeroep om tente wat die kampeerders in die dagkampeergebied opgeslaan het, af te breek.
Die dagkampeerder verskyn vanoggend in die hof.
Volgens Blanche Benjamin van die aksiegroep het hulle om ongeveer 11:00 by die kampeerterrein gearriveer. "Ons het twee tente en 'n gazebo opgesit. Wetstoepassingsbeamptes het kom sê ons mag ingevolge 'n bywet nie tente opsit nie. Dit was egter nie ons bedoeling om te oornag nie. Daar was geen beddens in die tente nie, net stoele. Ons het ouer mense en kinders in die groep gehad wat moes skuiling hê en nie heeldag in die son kon sit nie."
Volgens Benjamin het die beamptes weggegaan en later met versterkings en polisielede teruggekom.
Die arrestasie het om ongeveer 16:00 plaasgevind.
Die George-munisipaliteit en SAPD se kommentaar word afgewag.
Die dagkampeerder word in 'n polisievangwa gelaai.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'