GEORGE NUUS - Die Lentereeks-etensuurkonserte van 2020 in die NG Moederkerk George, begin op 14 Oktober met 'n mooi program van Afrikaanse sang wat solo's, duette en kwartette insluit.
Die sangers en hul begeleidster is almal inwoners van George, want een van die doelstellings van die konserte is om aan plaaslike kunstenaars die geleentheid te gee om op te tree.
Die sangers is Elisabeth Potgieter (mezzo-sopraan), Mia Dupper (sopraan), Heinrich Jonck (tenoor) en Buks Gericke (bariton). Hulle word begelei deur Dalene Brits, wat ook al die liedere gekomponeer het.
Oor 'n tydperk van baie jare het sy gewerk aan hierdie toonsettings van gedigte van onder meer Eugène Marais, C Louis Leipoldt, Burger Gericke, Olga Kirsch en Tjaart van der Walt. Die liedere verteenwoordig 'n wye verskeidenheid van gemoedstemminge: van lig en skertsend tot ernstig en nadenkend.
Die konserte duur van 13:10 tot ongeveer 13:50, maar die gehoor word versoek om vroeg te kom om die gesondheidsprosedure betyds af te handel. Toegang is gratis, maar donasies sal waardeer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'