GEORGE NUUS - Michielani Fourie (15), ’n gr. 9-leerder van Hoërskool Outeniqua, is reeds besig om haar naam as jong entrepreneur te vestig met nie een nie, maar drie klein ondernemings van haar eie.
Die energieke tiener sê sy het haar besighede begin omdat sy meer finansieel onafhanklik wil wees. Haar pa, ’n plaaslike ingenieur, is haar groot inspirasie en mentor.
“Naweke voor die eksamens is ek ’n besige by. Ek hou nie van stilsit nie - ek wil hê iets moet nou gebeur,” vertel sy.
“My pa het my gehelp om my besighede te begin sodat ek my eie inkomste kan verdien.
Ek wil eendag ook ’n entrepreneur wees. Elon Musk moet vir my uitkyk, ek gaan hom inhaal!”
Michielani vervaardig natuurlike sonskerm, natuurlike hondekoekies en suurdeegbrood - haar topverkoper.
Sy verkoop haar broodjies in die landgoed waar hulle woon.
Pino, die familie se Pekingese, is lus vir sy koekie.
“Ek bak elke week brood vir myself en verkoop ook daarvan. Ek is baie sensitief vir witbrood en het twee jaar gelede begin om vir myself brood te bak met volkoringmeel van Eureka Mills. My tannie het verlede Desember vir my ’n suurdeegplantjie gegee en van daar af het ek begin suurdeegbrood bak.”
Haar belangstelling in natuurlike produkte het ook gelei tot haar eie sonskermreeks.
“Ek het gehoor van al die chemikalieë wat in sonskerm is. My vel is baie sensitief en ek wil net die beste vir my vel hê. Ek eksperimenteer nog met verskillende olies wat voordele vir jou gesig inhou. My pa sê dit is ’n wenner op die mark, want dit is ’n gesigproduk.”
Die hondekoekies is van natuurlike bestanddele gemaak.
Die inspirasie vir haar natuurlike hondekoekies kom uit haar eie huisgesin se troeteldiere - KC, ’n miniatuur skaaphond wat hulle gesin by Odin aangeneem het, en Pino, die familie se Pekingese.
“Ons Pekingese se magie word omgekrap deur winkelhondekoekies,” verduidelik Michielani.
Volgens ’n lid van die Fourie-gesin smul beide honde aan dié koekies. “Dis hulle treat wanneer ons saans by die huis kom. Hulle hardloop reguit na daai kas toe. Ons spot dat hulle ‘waghonde’ is ... hulle wag net vir kos om op die grond te val.”
Michielani is baie toegewyd aan haar akademie en beskryf haarself as ’n ‘hokkiebokkie’. Sy gebruik haar ekstra inkomste om vir haarself luukshede vir hokkie aan te skaf.
Die logo is geïnspireer deur die gesin se skaaphondjie, KC.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’