Vir die volgende vier maande word finaliste bederf met ‘n mooimaaksessie, waarna een finalis na die finale ronde uitgenooi word wat by die Garden Route Casino gehou word.
Phambili het Elizabeth Potts as die Junie-finalis gekies vir ‘n bederfsessie by Garden Route Mall.
Elizabeth is onder hande geneem deur Stylz, Edgars en Garden Route Mall met ‘n mooimaaksessie wat begin het by Stylz met haarversorging, by Edgars met grimering en klere verskaf deur Garden Route Mall. Hierna het die Maal ‘n laatoggend ontbyt aangebied om die oggend af te sluit.
Soos met al die inwoners by Phambili het Elizabeth ‘n baie spesiale verhaal wat as inspirasie dien vir alle vroue wat deur moeilike omstandighede moet sterk bly.
Elizabeth se verhaal
Elizabeth is ‘n ma van drie kinders, twee dogters onder drie jaar, en een seun (7). Sy vertel dat sy nooit gedink het dat die persoon wat sy vertrou het as die hoof van die huis, wat haar en haar kinders moes beskerm, hulle so sou teleurstel nie.
Daar was nie kos vir haar kinders nie en sy het die nagte om gehuil. In haar tyd van hartseer is Elizabeth deur ‘n goeie vriendin verwys na Phambili, ‘n plek waar sorg en beskutting verskaf word.
Die besluit was moeilik, maar het alles in perspektief geplaas en hierna kon Elizabeth eers die skaal besef van die emosionele en finansiële mishandeling waardeur sy en haar kinders moes gaan. Daar was tye wat sy van die een na die ander familielid moes gaan om skuiling te kry. Phambili is ‘n plek waar jy ondersteuning, ‘n warm bed en kos kry - met baie liefde wat gehelp het om die seer weg te neem.
Elizabeth wil almal by Phambili bedank wat dit moontlik maak om ‘n skuiling in nood te wees vir vroue wat hoop verloor het.
"Mag die Here julle seën, want ek kon enige tyd van die dag vra dat iemand luister en advies gee," sê Elizabeth.
Sy is ‘n gekwalifiseerde gesondheidswerker, maar is tans werkloos en moet haar kinders alleen onderhou. Daar is egter hoop vir die toekoms en hopelik ‘n werk wat Elizabeth sal help om weer op haar voete te kom.
Foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
.jpg)
Elizabeth voor (links) en na haar bederfdag.