Dit is in hierdie tyd, rondom sy verjaarsdag, wat Sheril Daniëls se hartseer op sy ergste is. "Sy verjaarsdag en Kersfees. Dit is vir my moeilike tye," sê Daniëls in gesprek oor die dinge wat haar lewe vir ewig verander het.
Daniëls se seuntjie, Lendel, is op vierjarige ouderdom op 30 Julie 1992 oorlede. Hy sou vanjaar sy 37ste verjaarsdag vier, moontlik 'n vrou en kinders hê en wie weet watter beroep hy sou volg.
Intussen beweeg die lewe aan, en moes sy haarself regop hou, al was dit hoe moeilik. Daniëls se man, Julin, is verlede jaar op 13 Augustus oorlede.
Vir 38 jaar het Daniëls by Hoërskool George, as 'n Afrikaans-onderwyser skool gegee. Deesdae is sy een van die hoofde van sistemiese toetse, 'n posisie wat sy baie geniet.
"Ek was 'n kwaai onderwyser, ek het die beste uit my kinders gekry," vertel sy tydens 'n onderhoud aan George Herald.
"Ek sou 'n opstel drie keer oormerk om seker te maak die kind het die beste moontlike punt gekry."
In haar binneste moes Daniëls daagliks veg om emosionele oorlewing. Die gemis na haar seuntjie was baie erg. "Ek het by sy graf gesit en grou."
Hierdie foto van Lendel (4) is ’n maand voor sy dood tydens ’n vakansie geneem.
Hierdie pyn en brawe, sterk fasade, het die digter Sumayyah Campher Petersen aangegryp, en dien as die eerste gedig in haar Facebook-reeks, Kelders van Genesing.
Petersen was 'n leerder van die skool, en was bewus van Daniëls se reputasie as 'n "kwaai onderwyser".
Haar gedig dwing die leser om verder te delf, dieper te kyk as die frons en die harde stem (lees Die juffrou wat julle nie ken nie op die brieweblad, bladsy 16).
Sewes
Daniëls se pyn loop in sewes. Sy het Lendel op die sewende maand aan die dood afgestaan. Sewe maande later was sy weer swanger, met 'n seuntjie, Aldin. Sewe maande na Aldin se geboorte kry Daniëls 'n noodhisterektomie - sy sou nooit weer kinders hê nie. Vir sewe jaar versorg Daniëls haar man voor hy sterf.
Aldin Daniëls gee tans skool by Parkdene Sekondêr. Hy en sy gesin is sy ma se alles. Saam met hom is sy dogtertjies, Selah (links) en Salem.
Genesing
Om oor Lendel te praat help met genesing. Sy onthou daardie dag so duidelik. Hierdie is haar woorde: Lendeltjie het daai dag van sy sterfte vir my gesê, "Mammie, sit 'n kussing in jou maag, want ek wil sien hoe jy lyk want jy gaan vir jou 'n ander baba moet kry, want ek gaan wegloop." Op daai stadium dink 'n mens mos nie aan die ergste, of aan die dood nie.
Lendel het daardie dag pampoentjies gehad, hy was nie kleuterskool toe nie. 'n Goeie vriendin van my in Delvillepark het hom vir die dag opgepas. Ek het hom na skool gaan haal, en sy fietsie by sy ouma se huis - iets wat ek nooit gedoen het nie - en na ons huis in Andersonville geneem. Ek het nog vir hom gesê: "Lendeltjie, skrop daar agter in die sand met die fiets, jy gaan nie pad toe nie."
Lendel Daniëls (2)
"Later kom hy ingehardloop en praat oor die kussing, en vra vir 'n stringetjie tjips vir hom en sy maats wat gaan kom speel, en 'n Diet Coke vir my, want hy sê ek gaan moet maer raak, ek is bietjie oorgewig.
"Die winkel was net so 'n entjie, en hy sê: Moenie die deur sluit nie, ek gaan nie saam nie, ek gaan net in die deur staan. Ek besef toe jinne, my kind raak nou groot.
"Teruggekom, het ek dit vir hom gegee, wasmasjien is aangesit en die vacuum was aan. Tot iemand gillend vir my skreeu, 'n trok het oor my kind gery. Ironies genoeg, my man het op daardie stadium by die eienaar van die trok, by Brenton-on-Sea gewerk."
Daniëls sou later uitvind die kind van die man wat die trok gery het, is in haar klas. "Hy het my om die lyf gevat en gesê: 'Juffrou, ons kan ook nie saans slaap nie, my pa kry nagmerries'."
Sielkundige hulp en bystand van haar man en kerk het Daniëls gehelp om mettertyd haar pyn te verwerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’