GEORGE NUUS - Les Dyason, een van George se bekendste inwoners, het Dinsdag 6 Julie aan Covid-19 gesterf. Hy was 75 jaar oud.
Hy is op 12 Junie in 'n Kaapstadse hospitaal vir behandeling opgeneem. Ofskoon dit by tye beter met hom gegaan het, het hy stelselmatig agteruitgegaan.
Dyason was 'n bekende in sakekringe en 'n gemeenskapsleier. Hy het ook 'n wye vriendekring gehad in die breë gemeenskap.
Hy is beskryf as 'n pionier in alles wat hy aangepak het, iemand wat diep spore gelaat het en alles met 'n passie bemeester het. Hy was gemaklik in die geselskap van sowel konings as bedelaars.
As vernuftige sakeman het hy onder meer aandag getrek vir die suksesvolle bestuur van die restaurant op die George-lughawe in die tagtigerjare.
Wyle Les se oudste seun, Stephen Dyason, het aan George Herald gesê sy pa was tot kort voor sy dood baie betrokke by sy sakebelange. Hy het uitgebreide sakebelange in George en in Kaapstad gehad. In George was hy onder meer die eienaar van die Gateway Lodge.
Stephen het vertel dat sy pa baie hard gewerk het. "My pa se stokperdjie was sy werk."
Sy pa was 'n ware mens-mens. "Mense het opgesien na hom en hy was baie beskeie. Ons gaan hom natuurlik mis. Ons pa, oupa, vriend laat 'n baie groot leemte wat ons tasbaar gaan mis."
Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.
Les se vrou, Dorothy, het hom reeds in 2008 ontval. Hy word oorleef deur vier kinders (Stephen, Dennis, Janine Dyason en Carmen Vockins), agt kleinkinders en twee agterkleinkinders.
* Les Dyason (75), one of George's most well-known residents, died of Covid-19 on Tuesday 6 July. He was admitted to a hospital in Cape Town on 12 June. Dyason was well known in business circles and as a community leader. He was still actively involved in the business world until shortly before his death.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'