TUINROETE NUUS - Tjaart van der Walt is 'n kliniese sielkundige in die Tuinroete wat skryf oor slaap.
Van der Walt laat val die soeklig op hierdie lewensbelangrike onderwerp in 'n reeks artikels, want niemand kan sonder slaap funksioneer nie.
'n Nagraadse student by die Chicago Universiteit het in 1952 oogbewegings by slapende kindertjies waargeneem en dit sorgvuldig gedokumenteer. Hy en sy professor het verdere ondersoek ingestel en gevind dat dié vinnige oogbewegings 'n paar keer tydens die verloop van 'n nag se slaap voorkom.
Later is nog 'n student betrek, wat die slapende skones se breingolwe gemeet het. Gedurende die periodes van blitsige oogbewegings was die breingolwe bykans identies aan breingolwe van mense wat wawyd wakker is: onvoorspelbaar en vinnig.
Wanneer die oogballe egter roerloos was, was die breingolwe anders, veral tydens die diepste fases van slaap. Die golwe was dan ongeveer tien keer stadiger en relatief voorspelbaar met betrekking tot die kruin en dal daarvan.
Die stadige voorspelbare breingolwe ontspring meestal reg in die middel van die voorste dele van die brein, ook genoem die frontale lobbe. Die golwe kring egter nie vandaar af uit in konsentriese sirkels soos wanneer mens 'n klippie in 'n waterpoel gooi nie.
Dit beweeg min of meer in een rigting na die agterkant van die brein. Dit lyk asof die gebeure en gedagtes van die dag met hierdie elektriese golfproduksies georden en gestoor word as geheue in die brein se databank.
Diep slaap
Die slaapfase waartydens die oogballe vinnige bewegings onder die ooglede uitvoer, word die REM-fase genoem, die afkorting vir die Engelse Rapid Eye Movement. Die teorie dat R.E.M., die Indie Rock-groep van die 1980’s, hul naam daaraan ontleed het, kon nog nooit met sekerheid bevestig word nie.
Die tyd wanneer die oogballe roerloos is, word die nie-REM-fase genoem. Wetenskaplikes is minder oorspronklik met benamings as musikante. Wanneer 'n persoon 'n volledige nag se kwaliteit slaap inkry, gaan hy of sy deur vyf siklusse van slaap, met elke siklus wat ongeveer 90 minute duur.
Tydens elke siklus beweeg mens eers deur vier vlakke van nie-REM-slaap (met elke vlak dieper as die vorige vlak) en daarna deur een fase van REM-slaap.
Tydens die derde en vierde vlak van nie-REM-slaap is dit baie moeilik om die persoon wakker te kry maar gedurende die REM-slaap aan die einde van elke siklus ervaar ons 'n baie vlak fase van slaap en droom ons bykans die heeltyd.
Tydens die eerste 90-minute siklus gaan jy deur kort tye van vlak nie-REM slaap en daarna deur 'n lang tyd van diep nie-REM-slaap. Dan volg 'n baie kort periode van REM-slaap.
Tydens die daaropvolgende siklusse word die tydsduur van die nie-REM-slaap geleidelik korter en die REM-slaaptyd word al langer, soveel so dat die vyfde siklus se REM-slaap veel langer is as die totale nie-REM-slaaptyd van siklus vyf.
REM-slaap help met fyn aanpassing en herkalibrering van die emosionele aspekte in die brein.
Dit dra weer by tot die korrekte interpretasie van gesigsuitdrukkings en liggaamstaal asook goeie emosionele regulering om kalm te bly en dan logiese besluite te kan neem.
Om gestoorde informasie te vergelyk met onlangse ervarings en dan kreatiewe insigte te genereer, is 'n verdere resultaat en voordeel van REM-slaap.
Dit verklaar hoekom ons soms wakker word met die oplossing vir 'n probleem waarmee ons al lank worstel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’