GEORGE NUUS - Inwoners hét 'n sê oor tavernes in hul woongebied, en alle tavernes is onderworpe aan dieselfde reëls en regulasies. Só het Delia Power, waarnemende direkteur van menslike nedersettings, beplanning en ontwikkeling, gesê, na aanleiding van kommer vanuit die publiek oor die algemene toepassing van munisipale bywette.
Ná die onlangse publikasie van 'n artikel oor die sluiting van die Red Lion Lounge in Conville, is George Herald versoek om meer uit te vind oor die onderwerp van tavernes in residensiële gebiede.
Meld moeilikheid aan
Die munisipaliteit moedig inwoners en die gemeenskap aan om onwettige tavernes en huiswinkels in hul area aan te meld. "Die munisipaliteit het 'n gesamentlike bedryfspan wat bestaan uit beplannings- en bouinspekteurs, wetstoepassing, die polisie en die distriksmunisipaliteit wat weekliks ondersoeke by tavernes en huiswinkels doen," het Power gesê.
"Die munisipale bywette word in die proses afgedwing. Tans is daar verskeie sake in verskillende stadiums van die litigasieproses. In sommige gevalle staak die besigheidseienaars hul bedrywighede, of doen gewilliglik aansoek om die oortredings reg te stel."
Powers bevestig dat die munisipaliteit die kwessie van onwettige grondgebruik, wat tavernes en huiswinkels insluit, ernstig opneem.
"Veral in gebiede waar dit 'n buitensporige negatiewe impak op gemeenskapsveiligheid en -welstand kan hê," het sy gesê.
"Tans werk ons op 'n klagte-gebaseerde stelsel waar bekommernisse en klagtes wat deur inwoners, gemeenskapsleiers of wetstoepassingsagentskappe geopper word, ondersoek word. 'n Klein maar toegewyde span grondgebruik- en boubeheer-inspekteurs (toepassingsbeamptes) hersien elke klagte en prioritiseer diegene met onmiddellike risiko vir openbare gesondheid, veiligheid en orde."
Drankowerheid
Die munisipaliteit lewer kommentaar aan die Wes-Kaapse Drankowerheid oor alle aansoeke om dranklisensies, insluitend die sonering/grondgebruikstatus, en of bouplanne vir die struktuur goedgekeur is. Hierdie kommentaar word deur die drankowerheid oorweeg wanneer hulle hul besluit formuleer.
"Ons het nie jurisdiksie oor die verkoop van drank nie, maar ons vereis wel dat grondgebruiksregte gepas is vir die bedryf van 'n besigheid, soos 'n drankwinkel," het Power gesê.
Die afdwing van die voorwaardes van die lisensie is die verantwoordelikheid van die Wes-Kaapse Drankowerheid in samewerking met die polisie.
Doen dit reg
Enige voornemende eienaar van 'n taverne en of huiswinkel moet aansoek doen om die regte sonering van die eiendom - en toestemming bekom - alvorens hulle 'n besigheid mag bedryf.
Adjudant-offisier Martin Barnard, George-polisie se drankoffisier. Foto: Michelle Pienaar
Hierdie is ook een van die baie aspekte waaraan adjudant-offisier Martin Barnard, George-polisie se drankoffisier, aandag gee wanneer hy 'n perseel besoek. "Daar moet goedgekeurde bouplanne wees en die sonering moet korrek wees," het hy gesê.
"Ons kyk na baie dinge, en ek ken die tavernes in my gebied soos die palm van my hand. Ek weet onmiddellik as ek by 'n plek instap of daar aangebou is, en of die besigheid van eienaar verwissel het. Dranklisensies moet jaarliks hernu word, voor 31 Desember vir die komende jaar. Ek vra mense om dié lisensies sommer byderhand te hou."
Barnard het 'n paar oproepe gekry tydens die naweek van 6 Oktober - die eerste Sondag wat drankwinkels hul deure kon oophou. Van die eienaars wou net seker maak of hulle wel hul deure kan oop maak.
"In my beroep staan ek tussen die twee - ek is daar vir die besigheidseienaar, die publiek, sowel as die polisie wat die drankwet moet polisieer. Ek moet seker maak alles loop in lyn met die wet," het Barnard gesê.
Die publiek of besighede kan Barnard kontak by 066 227 0437.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’