GEORGE NUUS - DAK-netwerk, 'n organisasie wat hom beywer vir die belange van bruin mense, het onlangs 'n tak in George gestig met pastoor Jannie Horne as sameroeper.
Die netwerk, wat sy hoofkantoor in Kaapstad het, poog tans om homself te posisioneer sodat hy deel kan vorm van die Nasionale Dialoog.
Horne sê hy het na DAK uitgereik omdat daar in George en die res van die Suid-Kaap verskeie leiers is wat betrokke wil wees by die Nasionale Dialoog.
"Daar is baie mense wat wil deelneem, maar niemand is so georganiseerd soos DAK nie en ons wil seker maak dat ons by die dialoog kan insette gee oor die posisie van bruin mense in die land. Ons bly uitgesluit. Eers was ons te bruin of te swart en nou is ons nie swart genoeg nie."
Danie van Wyk, die nasionale uitvoerende voorsitter van die netwerk, was in George vir die tak se loodsing. Hy het gesê hulle wil verhoed dat daar by die Nasionale Dialoog weer 'n situasie ontstaan waar bruin mense op die kantlyn staan soos met die destydse Codesa.
"Daar is vandag steeds rassediskriminasie en mense word steeds volgens hul ras geklassifiseer. Ons wil ons stem hieroor by die dialoog laat hoor."
Die organisasie werk ook vir die oprigting van 'n gedenknaald of beeld om die koms van slawe na Suid-Afrika en die beëindiging van slawerny in die land op 'n spesiale manier te gedenk. Hulle beplan vir eers 'n gedenkgeleentheid by die Kasteel in Kaapstad gedurende Desember.
"Ons moedig bruin mense aan om hulle identiteit te vier. Ons is direkte of indirekte afstammelinge van die fondasienasies van die land. Deel van die dialoog wat ons na die tafel wil bring, is dat ons die benaming 'kleurling' verwerp, want dis niksseggend.
"Ons gebruik in die interim 'bruin mense' tot daar waar ons self besluit oor 'n naam. Ons beywer ons onder andere ook vir die regmatige erkenning van Afrikaans as 'n inheemse taal," sê Van Wyk.
Die organisasie het in die verlede onder meer protesoptogte gehou by die Universiteit van Stellenbosch en Departement van Hoër Onderwys en Opleiding teen taalbeleid wat Afrikaans benadeel.
DAK is 'n akroniem afgelei van die name van drie prominente Khoi-leiers, Doman, Autshumao en Krotoa. Die organisasie is in 2017 gestig en hulle hoofkantoor is in Kaapstad.
Belangstellendes in die Suid-Kaap kan pastoor Horne kontak by 082 625 9788.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’