Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Moedeloosheid klop aan die deur van die plaaslike ACVV-bestuur ná daar binne minder as twee maande reeds drie keer by hul perseel in Parkdene ingebreek is.
"Die eerste inbraak was op 17 Desember verlede jaar," vertel die ACVV-bestuurder, Riana Lategan.
Volgens Lategan het die inbrekers toegang tot die perseel verkry deur 'n gat in die heining te sny waarna 'n veiligheidshek en 'n handvatsel van een van die deure aan die voorste gebou afgesteel is. Daar is twee geboue op die perseel in Mainstraat.
"Die tweede inbraak was op 6 Januarie. Dáár is nog 'n veiligheidshek uitgebreek, die deur van een van die geboue is oopgeskop en die alarmstelsel is van die muur afgeruk. Verder is ligte, kragkabels, deure en krane gesteel," sê Lategan.
Die derde inbraak was op Sondag 24 Januarie. Dié keer het die inbrekers die agterste gebou geteiken. "Hulle het weer boumateriaal, veiligheidshekke, ligte, wasbakke en krane gebuit."
Fotogalery: ACVV lei onder inbrake
Ná die eerste twee voorvalle is staalstawe aan die deurkosyne vasgesweis, maar, sê Lategan, met die derde inbraak is dié ook uitgebreek. Daarna het die meubels begin voete kry.
Kyk 'n video hieronder:
Wat hou die toekoms in?
Voor die inperking sou een van die geboue as 'n leessentrum ingerig word, maar volgens ACVV-voorsitter, Rina de Swardt, is dit nie in hierdie stadium moontlik om te sê wat die toekoms vir dié perseel inhou nie.
"Ons sal eers die finansiële skade moet bepaal. Soos ander welsynsorganisasies, is ons ook afhanklik van donasies. Die ACVV Vinknes-kleuterskool en die Byekorf-dienssentrum het ook groot finansiële skade gely weens die inperking wat verhoed het dat ons dienste, wat teen vergoeding gelewer kon word, moes staak. Ons het baie geld bestee om die gebou op te knap. Ons is regtig moedeloos," sê sy.
Die toekoms van die perseel en geboue, wat beoog was vir die opheffing van die Parkdene-gemeenskap, is dus in die weegskaal.
"Gaan dit die moeite werd wees om weer te begin sodat als weer afgebreek word? Die enigste oplossing, indien ons weer gaan begin, sal 24-uur sekuriteit wees en ons kan dit nie bekostig nie," sê De Swardt.
Enigiemand wat bereid is om die ACVV by te staan word gevra om hul kantoor by 044 874 2030 of 073 168 8052 te skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'