GEORGE NUUS - Toe Tokkie Pretorius, direkteur van die Anglo-Boereoorlog Museum in Bloemfontein en Johan van Zyl, adjunk-direkteur, en navorser by die instansie, George onlangs besoek het, het hulle nie met leë hande teruggekeer nie.
Tydens hul besoek het mense van die George-omgewing aandenkings wat in krygsgevangekampe in Indië en Ceylon (Siri Lanka) tussen 1900 en 1902 gemaak is, aan hulle oorhandig en dit sal later by die museum uitgestal word.
Hulle het George besoek as gaste van Suid-Kaapse tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA). Pretorius en Van Zyl het tydens hul besoek onder meer aanwesiges by die organisasie se twee maandelikse ledevergadering ingelig oor die gebeure by die museum.
Tokkie het aan die George Herald gesê van die juweliersware is destyds uit bene, wat deel was van kosrantsoene wat die krygsgevangenes ontvang het, gemaak. "Ons is baie bly daaroor. Dit word so bewaar vir die nageslag."
Volgens hom ontvang die museum in Bloemfontein maandeliks aandenkings van mense. Die jonger geslag is skynbaar onbewus van die oorlog. Hierdie aandenkings sal eers behandel word en dan onder klimaatsbeheerde toestande gestoor word vir latere uitstalling.
Volgens Van Zyl word besoekers van oor Suid-Afrika en ook uit die buiteland by die museum ontvang.
GGSA
Tydens 'n geleentheid by die George-museum het Abrie de Swardt van die GGSA se Suid-Kaapse tak gesê mense wat die ABO-museum besoek doen soms navorsing oor hul familie. Veral as mense ouer word stel hulle belang in hul familie-geskiedenis en waar hulle vandaan kom.
Pretorius het tydens die geleentheid gesê iemand kan nie die Suid-Afrika van vandag verstaan as hy/sy nie die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog verstaan nie.
Die oorlog was die grootste anti-koloniale oorlog en beide wit en swart het daaronder gely. Die ANC is onder meer gestig na aanleiding van gebeure in daardie tyd.
Hy het benadruk dit gaan nie oor heldeverering in die museum nie. Die waarheid moet in die museum vertel word. Die Britte is ook betrek as deel van die uitstallings en dit gaan oor versoening.
Van die aandenkings wat mense van die George-omgewing aan personeel van die Anglo-Boereoorlog Museum in Bloemfontein oorhandig het. Van die aandenkings is in krygsgevangekampe in Indië en Ceylon (Sri Lanka) tussen 1900 en 1902 gemaak. Foto: Eugene Gunning
When two senior staff members of the Anglo-Boer War Museum in Bloemfontein, Tokkie Pretorius and Johan van Zyl, recently visited George, they did not leave empty-handed. Residents of the Southern Cape handed them ornaments that were made in prisoner of war camps in India and Ceylon (Siri Lanka) between 1900 and 1902. These items will later be displayed at the museum in Bloemfontein. Pretorius and Van Zyl were the guests of the Genealogical Society of South Africa (GSSA) Southern Cape.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'