GEORGE NUUS - Minder as 'n maand voor die munisipale verkiesing op 1 November, is Georgiete steeds in die donker oor wie die regerende party se keuse as burgemeesterskandidaat is.
Verskeie politieke partye het reeds die name van hul burgemeesterskandidate bekend-gemaak, maar nie die DA nie.
Die DA het meer as 'n maand gelede sy burgemeesterskandidate vir ander dorpe in die oosstreek soos Mosselbaai, Oudtshoorn en Hessequa bekendgemaak, maar Georgiete weet steeds nie om wie se nek die DA die burgemeesters-ketting wil sien nie.
Daar word gegis dat die versuim om 'n kandidaat aan te wys die DA in sy verkiesingsveldtog benadeel. Ook in DA-geledere is daar ongemak oor die voortslepende proses.
Vrae het begin opduik of die DA wel sy kandidaat se naam voor die verkiesing gaan bekendmaak.
George Herald het verneem dat daar woelinge agter die skerms is. Na wat verneem word was Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste, heel bo in die DA se aanwysingsproses vir die burgemeesterskandidaat.
Tweede was 'n oudburgemeester en deesdae weer nuwe lid van die DA, Bazil Petrus; derde was DA-raadslid Raybin Figland en vierde Leon van Wyk, die huidige burgemeester. Blykbaar was die puntetellings van al die kandidate baie na aan mekaar.
Wessels het toe glo ter wille van kontinuïteit in George besluit om te onttrek en sy steun aan Van Wyk te gee. Dit is algemeen bekend dat Wessels en Van Wyk 'n baie goeie werksverhouding het.
Zille het gister, Woensdag 6 Oktober, aan George Herald gesê die proses is nog aan die gang.
"Ons moet dit ordentlik en volgens die party se prosesse doen," het sy gesê.
Sy kon nie 'n aanduiding gee wanneer dit afgehandel sal wees nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'