GEORGE NUUS - Die legendariese akteur Simon Bruinders, wat sy loopbaan 55 jaar gelede op die amateurverhoog in George begin het, tree die komende naweek vir die laaste keer in sy tuisdorp op.
Hy bring sy afskeidsdrama, Die Sideboard en die Vuur, Vrydag 3 Oktober na Hoërskool George se skoolsaal.
Vanessa Swartz is die mede-akteur in die vertoning, wat om 19:00 plaasvind. Kaartjies kos R60 (leerders bo 12) en R80 (volwassenes) en is beskikbaar by die skool en Eden FM. Die vertoning word in samewerking met Hoërskool George se alumni aangebied.
Vir 'n ekstra R50 kan gaste 'n Oscar-ervaring ná die vertoning beleef, vir diegene wat wil kuier en mooi foto's saam met die akteurs vir hul sosiale media-blaaie wil neem.
Ryk geskiedenis
Bruinders was die eerste bruin akteur wat in 1979 op die verhoog van die George-kunsteteater verskyn het, en het daarna in 1984 geskiedenis gemaak as die eerste bruin hoofrolspeler in 'n Ster Kinekor-film. Sedertdien het hy in 'n dosyn films en 24 TV-reekse gespeel en is hy bekend as een van Suid-Afrika se mees volhoubare teaterstemme.
Die stuk, wat hy saam met Zane Meas geregisseer het, is gebaseer op sy roman Die Sideboard, en vertel 'n George-storie wat diep in die gemeenskap se geskiedenis gewortel is. Saam met medeakteur Vanessa Swartz bring hy die produksie nou huis toe as deel van sy afskeid van die verhoog.
Simon Bruinders bring Die Side-board en die Vuur na Hoërskool George se skoolsaal.
Voorlesings
Bruinders gee 'n voorlesing uit sy boeke op Saterdag 4 Oktober om 14:00 by George-museum, vir SCAVA ('n visuele kunstevereniging in George). Hier sal hy gedeeltes uit sy romans Die DJ en Die Sideboard voorlees. Die boeke sal tydens die vertonings ook beskikbaar wees om te koop, beide die Afrikaanse weergawe Die Sideboard en die Engelse vertaling A Handful of Earth.
* Saterdag 4 Oktober word die vertoning, Die Sideboard en die Vuur, om 19:00 by die VGK-saal in Bridgton, Oudtshoorn, opgevoer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’