GEORGE NUUS - Ekonoom Dawie Roodt waarsku dat Suid-Afrika hom versigtig moet posisioneer in die internasionale arena, veral teenoor die VSA onder Donald Trump se administrasie.
Amerika beskik oor die grootste ekonomiese en militêre mag, terwyl Suid-Afrika nie meer ’n “liefling” van die wêreld is nie.
Roodt het verwys na die 30%-heffings in die VSA wat pas van krag geword het en gesê Suid-Afrika moet ook vrede maak met die waarskynlike einde van Agoa (African Growth and Opportunity Act).
Daar is verder ’n risiko vir finansiële sanksies van die VSA wat die ekonomie kan kelder omdat die land se groot fiskale tekorte swaar steun op buitelandse befondsing, onder andere van Amerika.
Roodt was die gasspreker by ’n sakeontbyt verlede Donderdag tydens die George-landbouskou.
Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika se belastingbasis uiters klein is en swak ekonomiese groei (onder 1%) armoede en werkloosheid aandryf. Meer as 1 miljoen individue dra 80% van belastinginkomste by, terwyl dit 2 miljoen staatsdienswerkers en toelaes aan 28 miljoen mense moet onderhou. Hy beskryf die fiskale rekeninge as ’n “ramp”.
Salarisse van staatsdienswerkers maak 18% van die land se totale produksie uit. Wanbestuur, korrupsie, vervallende staatsondernemings en ’n mislukte onderwysstelsel is van die kernprobleme. Politieke verandering is onvermydelik, maar sterk leierskap ontbreek dwarsdeur die politieke spektrum.
Hy steun die Reserwebank se besluit om die inflasieteiken op 3% vas te stel. Inflasie word grootliks veroorsaak deur Eskom se tariefverhogings bo die algemene inflasiekoers. Deur die inflasieteiken laag te hou, beteken dit dat “die minister van finansies, Enogh Godongwane, ook verantwoordelik moet raak, en politici wil nie gedissiplineerd wees wanneer dit kom by die beperking van spandering nie”.
Hy verwag ’n verdere rentekoersverlaging van minstens 25 basispunte, moontlik selfs 50.
Ten spyte van al die uitdagings in die land, sien Roodt geleenthede in die privaat sektor, veral in landbou, onderwys, gesondheidsorg en finansies. Hy het beklemtoon dat moderne boerderye op groot skaal, soos korporatiewe ondernemings met die beste vaardighede en tegnologie, bestuur moet word.
Op globale vlak het hy gewys op veranderende demografie. Soos lande ryker word, daal geboortesyfers en bevolkings krimp, wat uitdagings vir pensioene, arbeidsmag en verbruikerspatrone skep. Suid-Korea is ’n voorbeeld waar lewensverwagting 85 jaar is en die bevolking elke 30 tot 35 jaar kan halveer. Dit sal tegnologie verg om in die toekoms na ouer gemeenskappe om te sien. Bevolkingsinkrimping is nie meer beperk tot welvarende lande nie, maar kom ook in Rusland, China en sekere Suid-Amerikaanse lande voor. Sub-Sahara Afrika bly ’n uitsondering met sterk bevolkingsgroei.
Internasionaal bly risiko’s groot, soos Rusland se oorlog teen die Oekraïne en moontlike Chinese aggressie teen Taiwan. Indië toon beleggingspotensiaal, terwyl Europa demografiese druk en politieke onsekerheid ervaar. Die Amerikaanse ekonomie is veerkragtig en Trump se beleid, hoewel onvoorspelbaar, bepaal die wêrelddinamiek.
Roodt het verder verwys na tegnologiese veranderinge. Blockchain en kriptogeldeenhede, wat buite staatsbeheer staan, kan tradisionele geldeenhede soos die rand bedreig omdat dit kapitaaluitvloei sonder valuta-regulering vergemaklik.
Hy het gesê die twee dryfkragte van moderne ekonomieë is vaardighede en tegnologie. Hulle verlaag pryse van vervaardigde goedere, maar verhoog die waarde van gespesialiseerde dienste. Sy raad aan individue is: diversifiseer beleggings, plaas ’n beduidende deel oorsee, gebruik die regte strukture en raadpleeg kundiges.
“En ten laaste, moenie enige wette oortree nie, maar maak altyd seker jy betaal so min belasting as moontlik.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’