GEORGE NUUS - 'n Projek wat gebore is uit 'n plek van omgee vir bejaardes, is stadigaan besig om vorm aan te neem.
Elke tweede Woensdag kom 'n groepie gewilliges uit alle oorde bymekaar om die oulikste kinderspeelgoed te maak, 'n koppie tee te drink en gesellig te verkeer. Bowenal is dit vir 'n goeie doel - 'n poppie of lapspeelding in die hand van 'n kind.
Veral diensorganisasies en skole sal by hierdie projek baat vind. Die fokus is op herwinbare produkte wat op allerlei oulike maniere gebruik word om sagte speelgoed te maak.
"Die Senior kuns- en kuierprojek skep 'n geleentheid vir mense om mekaar te ontmoet, gesellig te verkeer en iets kreatief te maak," verduidelik Adelina Coleman, wat aan die stuur van die projek staan.
"Ons het maar pas begin - middel Augustus, maar ek sien daarna uit om te sien hoe die groep groei. Daar is soveel kreatiwiteit tussen die vroue en dit is heerlik om te sien hoe mense na mekaar uitreik en die tyd saam geniet."
Coleman vertel hoe heerlik dit was om te sien hoe 'n ou patroon wat een van die vroue saamgebring het, ooreenstem met 'n bykans identiese moderne weergawe wat op Pinterest verskyn.
"Hierdie speelgoed is steeds in die mode!" sê sy.
Benewens die poppies wat gebrei of gehekel word is die groep ook besig met 'n babareeks, en maak hulle ook lappoppe. Heelwat kleuterskole, voorskoolse klasse en babaklasse sal baat vind by hierdie produkte.
Die groep vergader weer op Woensdag 10 September om 09:00 tot 12:00 by die Bergsig-gemeente (Juniorsaal). Vir inligting kontak Adelina by 082 298 0362.
Nog 'n speelding in wording.
Poppies vir die kleingoed.
Heelwat kleuterskole, voorskoolse klasse en babaklasse sal baat by hierdie produkte.
Elke projek is uniek van aard.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’