GEORGE NUUS - Craig Goldman, bynaam Giraffe, se ma Mina, is radeloos van bekommernis. Haar seun het die aand van 19 Julie hul huis in Elsiestraat, Conville, George verlaat en gesê hy gaan saam met vriende kaart speel. Dit was die laaste keer wat sy Craig (26) gesien het.
Mina het eers na dié naweek onraad vermoed, en toe hy nie Sondagaand huis toe kom nie, het sy hom Maandag 21 Julie as vermis aangemeld.
Haar groot bekommernis is dat die polisie nog niks bekend gemaak het oor die feit dat Craig vermis is nie, en dat sy ook geen positiewe terugvoer van hulle ontvang nie. Dit is vir Mina uiters moeilik, want sy kan nie afsluiting kry nie en is angstig om te weet wat met haar seun gebeur het.
Rupert Pretorius, voorsitter van die George GPF, het op navraag bevestig dat die Conville GPF geen kennis dra van Goldman se verdwyning nie.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het bevestig dat Goldman op 21 Julie as vermis aangegee is, nadat hy sy woning op 19 Julie omstreeks 23:00 verlaat het om 'n vriend te besoek en nooit terug-gekeer het nie. SAPD het 'n ondersoek ingestel en verskeie huise in en om Conville besoek op soek na Goldman.
Craig Goldman se ma, Mina Goldman. Foto: Marguerite van Ginkel
Volgens inligting het hy op die dag van sy verdwyning 'n wit baadjie, blou jeans, bruin skoene en 'n swart mus aangehad. Spies het in sy verklaring bevestig dat Goldman steeds vermis is en versoek dat enigiemand met inligting oor sy verdwyning na vore kom en dit aanmeld by Conville Speurders by 044 803 3308 of Crime Stop by 086 00 10111.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’