GEORGE NUUS - ’n Egpaar van Denneoord, dr. Jan Pieterse en sy vrou, Antoinette, se vriendelike gewuif vir die verbygaande Powervan het altyd die aandag van passasiers en aan boord personeel getrek. Dan was daar ’n vrolike oor-en-weer gegroetery.
Die bejaarde egpaar het vir die laaste paar jaar by hul dogter, Reda-Lené gewoon in hul huis wat reg langs die treinspoor geleë is. Hulle het graag elke dag in die sonnetjie buite gesit, Jan met sy kenmerkende keppie op wat sy ma nog vir hom gebrei het. So het die gewoonte ontstaan om elke keer te waai wanneer die Powervan verbykom op sy gebruiklike roete met die berg op.
Jan is in September verlede jaar op ouderdom 86 oorlede. “Die laaste goeie dae van my pa se lewe kon hy slegs vanuit sy stoel groet met sy kierie in die lug. ’n Stilte het sedert hy weg is, op ons agterplaas neergedaal,” vertel hulle dogter, Reda-Lené Spilhaus.
“Die waaiery was groot pret, want my ma-hulle het altyd erkenning gekry met ‘n toet-toet van die Powervan. Dit was al so ‘n instelling dat as my pa se suster van Stilbaai kom kuier, of eintlik alle gaste, is daar met opgewondenheid uitgesien na die verbyrit. Ons hoor die treintjie aankom deur die geluid op die spore. Dan roep ons, KOM, hier kom die treintjie! Dan strompel ons almal na buite en waai en waai.”
Voor Jan se dood was daar eendag ‘n klop aan hulle voordeur. Dit was Lorraine Kolrich, ’n toergids van die Powervan, wat wou weet waar is die oom en tannie wat daar bly.
Toe kry hulle ’n vriendelike aanbod vir ’n gratis rit. Weens fisiese beperkinge kon die Pieterses dit egter nie opneem nie, maar Kolrich het altyd gesorg dat die passasiers uitgekyk het vir die twee bejaardes langs die spoor en almal het dan vrolik gewaai, wat vir haar ouers baie beteken het, sê Spilhaus.
“Ons het dit werklik waardeer en wil vir Lorraine baie dankie sê vir die moeite wat sy gedoen het.”
Die Pieterses voor die muur waaroor hulle vir die Powervan gewaai het. Foto verskaf
Met ’n jonger generasie van die familie wat onlangs ook in ‘n woonstel op die eiendom ingetrek het, gaan die tradisie dalk weer in die toekoms hervat word, maar op die oomblik maak die herinneringe nog te seer.
Die gesin was oorspronklik van Kareedouw waar Jan bekendgestaan het as die ‘vlieënde dokter’.
“My pa het ’n klein vliegtuig en ’n sweeftuig gehad. Hy het eenkeer ’n noodlanding met die sweeftuig moes doen. Dit het gelukkig ’n enjin gehad en die boer van die plaas waar hy geland het, was so gaaf om vir hom ’n aanloopbaan met sy trekker te skraap sodat hy weer kon opstyg. Ons het soveel ryk herinneringe aan hom. Hy en my ma was 63 jaar lank getroud.”
Jan is by The Crags naby Plettenbergbaai begrawe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’