GEORGE NUUS - Grandt Damons, een van Eden FM se omroepers, se bekende stem sal van 9 Januarie af nie meer oor die golwe gehoor word nie.
Damons (26) maak ná 14 jaar by die radiostasie klaar om ’n nuwe reis aan te pak in ’n heeltemal ander rigting wanneer hy ’n administratiewe pos by ’n onderneming in die Garden Route Mall gaan vul. Hy wil op hierdie stadium nie bekendmaak waar hy in diens geneem is nie.
Damons was ‘n 13-jarige tjokkertjie en leerder aan Eden Hoër Tegniese Skool toe hy vir die eerste keer as rugbykommentator vir Eden FM agter die mikrofoon ingeskuif het. Dit het als begin toe die radiostasie in 2011 nie die SWD-finale soos altyd die gebruik was, uitgesaai het nie. Damons het by die kantoor gaan aanklop om te hoor wat die rede was, toe gee die stasiebestuurder, Morné Pietersen, hom ’n voet in die deur. Hy het begin deur in rustyd en na die eindfluitjie opsommings van wedstryde te gee.
“Ek het dit vir vier jaar gedoen en in daardie tyd is ek soms aan die diep kant ingegooi en moes die volledige wedstryd uitsaai wanneer iemand anders nie beskikbaar was nie. Van my kollegas het ook gesterf en ek het hulle plek begin inneem.”
Damons was 19 jaar oud toe hy die middagete-gleuf, van 12:00 tot 15:00, gekry het waar hy ’n verskeidenheid moes aanbied – van nuus en musiek tot sport en Open Heavens, ’n geestelike insetsel. Hy moes geselskap maak met sy gehoor, en het dit geweldig geniet. Hy het geliefd geraak onder luisteraars. “Ek het allerhande byname gekry, onder andere Rasper, want die mense het gesê ek breek harte met my musiekklanke. Ander name was Melkterthorinkies en Teddiebeer.”
Grandt as jong rugbykommentator. Foto verskaf
Damons sê hy was van kleins af lief vir praat en is gereeld vertel hy praat te veel. Hy is eintlik ’n ou siel en assosieer maklik met mense ouer as hy . Sy gemeensame geselsies oor die lug het veral by ’n ouer vroulike gehoor aanklank gevind.
“My radiopersoonlikheid was so 83. Ek het mense ver terug gevat in tyd met my gesprekke en musiek. Ek gaan dit baie mis. Dit was nie ’n maklike besluit nie. Ek is Morné ewig dankbaar vir die geleentheid wat hy vir my gegee het en die ervaring wat ek by Eden FM kon opdoen. Dit het my lewe geweldig verryk.”
Wat hom die gelukkigste gemaak het van sy werk, was wanneer hy ’n glimlag op mense se gesigte kon sit. “’n Mens weet nie altyd deur watter moeilike omstandighede ’n ander gaan nie. As ek met my grappies en gesindheid of ’n woord van bemoediging iemand wat in ’n donker put is, kan oplig, dan het ek my doel bereik. Dit was vir my wonderlik om te weet ek is in mense se sitkamers en kombuise, by hulle werk en in hospitale, selfs oorsee vir die wat aanlyn luister.”
Sy ouers, Jeremy en Sharon Booysen, en laatlamsussie, Jeneil, is baie trots op hom. “Hulle het my al die jare bygestaan en aangemoedig. Toe ek as skoolkind begin het, het my ouers my rondgery sodat ek smiddae by die radiostasie kon wees vir uitsendings.”
Hy sou uitvaltyd eers huis toe gaan. Huiswerk moes saans gedoen word. “Partykeer wanneer ons buite-uitsendings en gemeenskapsuitreike gedoen het, moes ek huiswerk soggens voor skool inpas, maar dit was als die moeite werd.”
Dis nie net in sy loopbaan waar Damons ’n nuwe hoofstuk betree nie, maar ook in sy verhoudingslewe nadat hy verloof geraak het aan 'n nooi Joseph. Hy is ook al 'n pa. Sy seuntjie, Ashandt Grandt Hendricks, is vyf jaar oud.
2026 wink vir hierdie radioman met opwindende nuwe potensiaal en moontlikhede.
'n Gewilde omroeper. Foto verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’