"Dit was tog wel ‘n groot avontuur om na ‘n vreemde land te vertrek, en dan te hoop jy beland op die regte plek met goeie werk," vertel Evert met ‘n vonkel.
Alhoewel Evert se pa sy eie onderneming in Haarlem gehad het, was werk in Nederland in die 1930’s bitter skaars. Dié land was in ‘n diepe depressie, en hy kon dus met veel moeite genoeg geld bymekaarskraap om vir die reis na die Tranvaal te betaal. Interessant genoeg het Suid-Afrika juis op die tydstip ‘n industriële oplewing begin beleef.
As ervare metaaldraaier, wat trots was op sy werk, het hy wel werk in die Johannesburg area gevind. Hy was gou gevestig en kon sy verloofde, Johanna vra om by hom aan te sluit. Sy was voorwaar ‘n goeie huweliksmaat vir amper 70 jaar. Dit was eintlik ‘n gelukskoot dat hy weg is, en die ellende wat die Nederlanders beleef het toe die land deur die Duitsers beset was in die Tweede Wêreldoorlog, dus heeltemaal vrygespring het. Die egpaar het drie kinders gehad en hul seun Eddie woon tans in George.
Hy het jare lank sy eie besigheid gehad, en kon bekostig om heelwat te reis. Die egpaar het ‘n wêreldreis vanaf Durban met die skip Gallileo Gallilee onderneem wat hulle geneem het na Australië, Amerika, Hawaii, Thahiti, deur die Panama Kanaal na Europa.
Hy het meer as een keer ‘n noue ontkoming gehad. Een daarvan was na afloop van ‘n visvangery by die Bonaccorddam. Die visse wou nie byt nie, en hy het terwyl dit pikdonker was besluit om maar te ry. Sy motor het uitgesny op ‘n heuwel en net op die tydstip kom daar ‘n trein verbygesnel. "My motorvensters was opgestoom en hy kon nie mooi sien nie. As dit nie was vir dit nie sou ek nooit bedtyds die trein gesien het nie."
Sy waakengel het dus oortyd gewerk daai aand. ‘n Ander noue ontkoming was by die Modderfontein plofstoffabriek naby Edenvale.
Hy het sy voet beseer terwyl hy aan diens was en het toe sommer na die fabriekshospitaal gestap. Juis op die tydstip was daar ‘n geweldige ontploffing (in die gebied waar hy ook gewoonlik werksaam was) waarin ‘n paar mense gedood is. Toe die hospitaalpersoneel bontstaan met die noodgeval het hy toe sommer besluit hy sal sy eie gebreekte toon spalk.
Sy liefde vir musiek loop soos ‘n goue draad deur sy lewe. In sy jonger dae het hy in ‘n koor gesing, maar deesdae luister hy graag na klassieke musiek saam met sy vriendin Lettie Conradie. Sy kom graag by Tuiniqua kuier om met die lewendige man te kom gesels. Evert speel nog graag sy bekfluitjie maar ongelukkig is hy tans in ‘n rystoel aangesien hy ‘n heupvervanging ondergaan het. Die Dost-familie sien uit na 25 Julie wanneer hulle sy 97 ste verjaarsdag met ‘n geselligheidjie gaan vier.
 (Medium).jpg)
Evert en Jo Dost (links) in hulle jonger dae aan boord van ‘n passasierskip. Hulle het heelwat reise onderneem veral in die 1970’s toe hulle om die wêreld gereis het.
ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS