KULTUURNUUS - 'n Jong vrou wat haar grootword-skoene in George gedra het, is onlangs vir haar bydrae in Afrikaans met die Jeugkoker-toekenning van die Afrikaanse Taalraad bekroon.
Sumayyah Campher-Petersen kan beskryf word as 'n taalaktivis wat haar beywer vir die behoud van haar moedertaal, Afrikaans.
Met die aankondiging op sy Facebook-blad stel die taalraad haar voor as 'n passievolle Afrikaansonderwyser wat die taal vir haar leerders lewendig en betekenisvol maak.
"Deur die kreatiewe gebruik van poësie, slagspreuke en verhale laat sy kinders nie net leer nie, maar ook voel en beleef. Wanneer Afrikaans onder druk kom, is sy een van die eerstes om haar stem te laat hoor."
As aktivis vir Afrikaans het Campher-Petersen al openbare briewe aan die president geskryf, politieke partye aangespoor tot aksie, en as spreekbuis vir haar gemeenskap opgetree. "Haar toewyding tot die taal is 'n daad van aktivisme - nie uit vrees vir verlies nie, maar uit liefde vir behoud," lees die inskrywing.
"Die gemeenskap het haar nie verniet as die 'Godmother van Afrikaans' en die 'Antjie Krog van die backstreets' begin noem nie - 'n titel wat haar unieke vermoë erken om Afrikaans tot in sy diepste menslikheid te laat leef. Haar invloed strek ver buite die skoolmure en sy dien as rolmodel vir almal wat die taal liefhet en daardeur gevorm is." - Saamgestel deur Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’