GEORGE NUUS - K’Nareb-nasorg het in die September/Oktober-skoolvakansie met hul aktiwiteitsprogram vir kinders gesorg vir ure se plesier.
Op Maandag 2 Oktober het hulle die kinders op 'n opvoedkundige uitstappie na die Outeniqua-vervoermuseum en George-museum geneem waarna hulle die buitelug en natuurskoon by die Tuinroete Botaniese Tuine geniet het.
Die volgende dag was daar bykans 120 kinders op die New Dawn Park-sportterrein waar hulle vermaak is met speletjies en sportaktiwiteite. Daar was ook iets te ete en 'n lekkergoedpakkie vir elkeen. Op Woensdag 4 Oktober is 'n groot groep kinders na Wilderness geneem om rommel op te tel by die Wildernessmeer en Leentjiesklipstrand.
"Al drie uitstappies was baie suksesvol en die kinders het baie geleer terwyl hulle hulleself gate uit geniet het," sê Norman Farao van K'Nareb.
"Baie dankie aan ons nuutverkose raadslede wat hul hande diep in hul sakke gesteek het om hierdie uitstappies moontlik te maak. 'n Spesiale dankie aan die bestuurder van die George-munisipaliteit se gemeenskapsdienste, George Brandweer, Wes-Kaap Welsynsdienste, ons borge wat ons maandeliks borg en almal wat gehelp het om hierdie uitstappies vir ons kinders moontlik te maak."
K'Nareb is in April vanjaar gestig onder die vaandel van die Pacaltsdorp-dwelmondersteuningsgroep. In September vanjaar het die organisasie besluit om onafhanklik te funksioneer en is onder die naam K’Nareb-gemeenskapontwikkelingsforum geregistreer.
Die kinders kyk na 'n demonstrasie van die George-brandweer op die New Dawn Park-sportterrein.
By die Botaniese Tuine.
Op Leentjiesklip se strand met van die sakke vullis wat opgetel is.
'n Groep kinders het vullis in Wilderness opgetel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’