Update
GEORGE NUUS - Die reusebydrae wat wyle Urwin da Silva (69) op vele terreine gelewer het, is opnuut op die voorgrond sedert die skoknuus van sy dood op Saterdag 6 Februarie.
Nie net was hy bekend in sportkringe nie, maar ook in die breë gemeenskap en veral Pacaltsdorp.
Huldeblyke, wat erkenning gee aan die vele fasette van sy lewe, het die afgelope paar dae ingestroom. Da Silva is Saterdag oorlede na hy omstreeks 20:30 in 'n motorongeluk betrokke was.
Twee ander insittendes is lig beseer. Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings en voorsitter van die DA se oosstreek, het hom beskryf as "'n sout van die aarde mense-mens".
Hy het "oom Urwin", soos hy hom genoem het, in 2009 in Pacaltsdorp leer ken. Oor die jare het hulle 'n professionele verhouding gehad en 'n goeie vriendskap het ontwikkel. Volgens Simmers was Da Silva bereid om sy idees te deel en hulp aan te bied. Hy was ook trots op sy herkoms en kultuur as Khoi.
Hy was 'n DA-ondersteuner, maar vir hom was die saak groter as die individu - bedoelende verandering vir almal.
'n Foto van die Proteas wat die Britse Leeus in 1974 aangedurf het. Urwin da Silva staan agter vierde van links.
Blanche Benjamin, voorsitter van Gwaiingrivier-aksiegroep, het gesê sy geliefkoosde plek was Gwaiing. "Hy het elke klip en boom op daai strand geken. Hy was 'n aktiewe lid van die groep en ons gaan hom mis. Dis simbolies dat hy daar naby dood is want hy was so lief vir die plek."
Volgens haar was hy baie vrygewig. Onlangs nog het hy 'n varkie, Covie, wat met net drie pootjies gebore is, aan die aksiegroep geskenk.
"Dit was met 'n goeie doel. Dit gee ook juis nou vir ons hoop vorentoe."
Urwin da Silva
Lizette da Silva, sy skoondogter en redakteur van George Herald, het gesê sy dood was skielik, maar hy laat die familie met mooi herinneringe. "Hy het elke dag voluit geleef asof hy vir ewig geleef het. Elke dag het hy gedoen waarvoor hy lief was."
Hy was baie lief vir mense en diere. Veral behoeftige mense en kinders het hom na aan die hart gelê. Kidron Kaboni, jare lange vriend, het gesê Da Silva was 'n voorbeeldige en gedissiplineerde sportman. Hy was ook ontsettend mededingend.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder se paaie het die eerste keer met hom op die rugbyveld gekruis toe Da Silva afrigter van die polisie se rugbyspan was. Hy het gesê Da Silva was 'n gemeenskapsmens met 'n intensiewe liefde vir boerdery. Da Silva word oorleef deur sy eggenoot Ivy, kinders en kleinkinders.
Die begrafnis vind Saterdag om 09:00 by die familie se huis in Plantasieweg 21 plaas. Streng Covid-19-protokolle sal gevolg word.
Aankondiging oor huldigings-geleentheid en begrafnis
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'