GEORGE NUUS - Een van George se bekendste inwoners en ‘n gemeenskapsleier wat diep spore getrap het, Urwin da Silva, is Saterdag oorlede na hy omstreeks 20:30 in ‘n motorongeluk betrokke was. Twee ander insittendes is lig beseer.
Hy was 69 jaar oud.
Da Silva word oorleef deur sy eggenoot Ivy, kinders en kleinkinders.
Sy een seun, Maurice da Silva is getroud met Lizette da Silva, redakteur van George Herald. Sy het vanoggend gesê sy dood is ‘n groot skok en hartseer vir die familie. Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.
Benewens sy groot bydrae as gemeenskapsleier was hy ook ‘n oud-Springbokrugbyspeler en het voorheen by die George-munisipaliteit gewerk.
Sedert die nuus van Da Silva se dood bekend geword het, stroom huldeblyke in. Onder diegene wat hul skok met sy onverwagse dood uitgespreek het, is die DA.
Dr. Mimmy Gondwe. ‘n DA-kiesafdelingshoof vir George, het vanoggend (Maandag 8 Februarie) in ‘n verklaring gesê die party is hartseer oor sy dood.
Sy het onder meer verwys na sy betrokkenheid in die gemeenskap. Hy was onder meer ‘n aktiewe lid van die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum en die Pacaltsdorp-buurtwag. Hy was ook ‘n stigterslid van die Gwaiingrivier Aksiegroep.
Sy het namens die DA haar simpatie met die familie uitgespreek.
Hilton Ambrose Spies, ‘n vriend van wyle Da Silva, het gesê daar kom mense in jou lewe met soveel liefde vir die lewe dat jy ook later dink hulle sal vir ewig leef.
“Ek kan nie onthou wanneer ek Urwin ontmoet het nie, hy was van altyd af maar net daar. Die Skrif sê, “soos jy lewe so sal jy sterwe” - so die plek waar hy gesterf het maak sin. Hy het op daai pad gelewe vir sy boerdery en veral vir onse geliefde Gwaiing. Rus sag geliefde vriend vader, oupa, broer, rugbyreus en eenvoudig net ‘n liewe mens.”
*Lees ‘n volledige berig in Donderdag se uitgawe van die George Herald.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'