TUINROETE NUUS - 'n Vrou van George, Ulla Taute (78), is Saterdagaand, 4 Desember uit 'n nare penarie gehelp toe sy langs die N2 by Groot-Brakrivier met 'n pap wiel gaan staan het.
Taute het om 20:30 agtergekom iets is nie lekker nie en met haar Toyota Rav langs die pad gestop.
Haar een voorwiel was aan flarde en Taute is nie sterk genoeg om self 'n wiel om te ruil nie.
Angsbevange in die pikdonker het sy 'n vriendin in George gebel vir hulp, maar die ontvangs was so sleg dat hulle mekaar kwalik kon hoor. Uiteindelik kon sy agterkom waar Taute gestrand is en uit desperaatheid die Mossel Bay Advertiser gekontak.
Die Advertiser het probeer om die polisie te kry om te gaan help, maar hulle het nie 'n voertuig beskikbaar gehad nie.
Louise Karsten van die Advertiser het toe genoem dat Suiderkruis Sekuriteit dalk bereid sal wees om te help.
Suiderkruis se empatiese beheerkameroperateur, Brigitte Louw, het onmiddellik die bestuurder aan diens, Andrew Grootboom gevra of hulle iemand kan stuur en binne minute het Elton Fry hom gehaas na die toneel.
Taute het intussen in die donker daarin geslaag om 'n vragmotorbestuurder se aandag te trek, wat wel gestop het, maar hy kon nie die spaarwiel laat pas nie.
Met sy aankoms het Fry die taak oorgeneem en die wiel binne 'n japtrap vervang.
Taute is almal wat haar bygestaan het ewig dankbaar.
"Ek was in 'n totale toestand en het net die heeltyd gevrees dat misdadigers my aanrand en my kar steel. Mens hoor deesdae so baie grustories. Baie dankie aan Suiderkruis wat my onbaatsugtig te hulp gesnel het. Dit is 'n privaatmaatskappy, maar hulle het nie geskroom om 'n tannie in nood te kom help nie. 'n Groot dankie."
Sy het ook die trokbestuurder, Richard Michaels van Milktrans bedank wat gestop het en by haar gebly het tot Suiderkruis opgedaag het.
Grootboom het aan die Advertiser gesê hy het nie vir 'n oomblik gehuiwer om een van sy sekerheidsbeamptes uit te stuur nie.
"Dit was baie gevaarlik vir die dame om alleen langs die pad in die donker te wees. Elton was die naaste en sou die vinnigste by haar wees. Ek is bly ons kon help."
Eind goed, als goed, maar vir eers is alleen ry in die donker heel onder op Taute se agenda.
Suiderkruis Sekuriteit se Elton Fry, Brigette Louw en Andrew Grootboom het behoorlike hulle kant gebring.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'